Mia Louw, van Namakwaland, is een van die 10 finaliste van mej. Veltieland van Hoërskool Duineveld. Mia het ‘n besondere passie vir liefdadigheidswerk en ‘n stralende glimlag wat sy graag met die wêreld deel.
Mia, wat op ‘n plaas in Kakamas bly, deel ‘n insiggewende kykie in haar lewe en motivering vir haar deelname aan Mej. Veltieland. “Ek het ‘n baie groot liefde vir liefdadigheid en om mense wat minder bevoorreg is te help, sit altyd ‘n glimlag op my gesig. Dit is een van die hoofredes hoekom ek besluit het om aan Mej. Veltieland deel te neem. Ek hoop om uit hierdie ervaring meer oor my mede-finaliste, sowel as myself, te leer en om liefdadigheid aan te moedig by die skool.”
Haar passie vir liefdadigheid strek verder as net die Mej. Veltieland kompetisie. Mia het groot drome om liefdadigheidsprojekte by haar skool te loots en mense bewus te maak van die belangrikheid daarvan om jou gemeenskap te help waar jy kan. Sy glo sterk daarin dat selfs ‘n klein gebaar ‘n groot verskil in iemand anders se lewe kan maak.
Vir Mia is selfvertroue ‘n kernwaarde. “Selfvertroue beteken vir my om vertroue in jouself en jou vermoëns te hê en om jouself op ‘n positiewe manier uit te beeld. God het ons elkeen uniek gemaak en deur die jare het ek so ook my selfvertroue gebou. Ek het begin aanvaar wie ek is en het ook besef dat ek nie myself vir enigiemand hoef te verander nie.”
As ‘n finalis sien Mia uit na die kroningsaand van Mej. Veltieland, waar al die harde werk van die tien finaliste beloon sal word. “Ons is al van Augustus af besig om voorbereiding vir die aand te doen en ons sit baie ure en beplanning daarin.”
Vir Mia is een van die grootste struikelblokke vir hedendaagse tieners groepsdruk. “Dit is moeilik om groepsdruk te vermy, maar ek berei myself voor vir my pad na skool deur te weet dat almal my nie altyd gaan aanvaar vir wie ek is nie. Dit gaan my as persoon nie affekteer nie, want die regte vriende gaan my nie wil verander of onder groepsdruk plaas nie.”
Al die mej. Veltieland-rokke word deur Mari-Leen Bauermeister, bekende mode-ontwerper, gemaak. Al die rokke sal ook te koop wees ná die geleentheid.
Baie sterkte, Mia!
Lees meer oor mej. Veltieland hier.
Ontmoet die finaliste:
Mej. Veltieland: ontmoet Lizelle Human
Mej. Veltieland: ontmoet Karlien Rossouw
Mej. Veltieland: ontmoet Marie Alberts
Mej. Veltieland: Ontmoet Dané Naudé



