Marie Alberts, matriekleerling van Hoërskool Duineveld, met ‘n sterk wil en ‘n passie vir liefdadigheid, deel haar ervarings en drome as deel van mej. Veltieland.
Lees meer oor Mej. Veltieland hier.
Marie woon gedurende die week in Upington, maar haar “eintlike huis” is op hulle familieplaas naby Marydale.
Opwindende nuwe uitdaging
Marie het die opwindende uitdaging aanvaar deur as ‘n Mej. Veltieland finalis deel te neem en sê dit was vir haar ‘n avontuur om dit aan te pak. “Meer as dit het dit my ‘n goeie platform gegee om ‘n regte verskil te maak.”
Sy vertel hoe ‘n ander finalis, Mila Folscher, ‘n groot invloed op haar gehad het. “Mila Folscher, ‘n Mej. Veltieland finalis van 2022 het my die moed ingepraat en voor ek weet was ek ook ‘n finalis. Ek wou aan die einde van hierdie proses iets meer van myself leer en hopelik ‘n verskil in iemand of iets anders se lewe maak, al was dit net vir een persoon of dier.”
Groot planne vir die toekoms
Marie het groot planne vir die toekoms. “Ek beplan om deur my getuienis ander te inspireer om ook betrokke te raak by liefdadigheidsprojekte. Ook om vir ander kinders te wys dat jy nie iemand besonders hoef te wees om ‘n verskil te maak nie, enige iemand kan ‘n verskil maak.”
Sy het ‘n sterk boodskap oor selfvertroue. “Selfvertroue beteken om jouself te ken, te weet wie jy is, wat jou waardes is en wat jou vermoë is. Ek sal myself beskryf as iemand wat baie selfvertroue het, maar dit kom nie vir my so natuurlik nie. Dis iets waaraan ek hard gewerk het, dit het lank gevat maar ek is trots om te sê ek hoef dit nie meer te ‘fake it till you make it’ nie, ek het dit gemaak.”
Ontmoet nuwe mense
Vir Marie was die beste deel van ‘n finalis wees om nuwe mense te ontmoet en saam met hulle te werk. “Die ervaring om met mense te werk sal ek altyd waardeer en weer gebruik.”
Sy het ook ‘n kritiese blik op die druk wat op tieners, veral meisies, geplaas word. “Daar word baie verwag van tieners, spesifiek van meisies. Die samelewing is baie kompeterend en as jy nie die beste is nie word jy maklik misgekyk. Dit voel of jou beste nie genoeg is nie en die verwagting dat jy altyd beter moet wees, of nie genoeg is nie, veroorsaak baie spanning. Ons moet leer om gemaklik te wees met ‘average’ en om trots te wees op wat ons bereik het.”
Berei voor vir lewe na skool
Marie is besig om haar voor te berei vir die lewe na skool. “Ek gebruik my laaste bietjie tyd op hoërskool om seker te maak ek is voorbereid vir die lewe na skool en om hard te werk aan my akademie sodat ek myself die beste moontlike kans gee om te kan gaan studeer sodra ek weet wat ek wil doen. Ek probeer God se wil vir my lewe volg, wat dit ookal mag wees. Ek vertrou Sy proses om my die regte plan vir my lewe, op die regte tyd vir my te wys, sodat ek Sy wil vir my kan gaan uitleef.”
Marie Alberts se reis is een van inspirasie en selfontdekking en ons sien uit na die groot dinge wat sy in die toekoms sal bereik.
Baie sterkte, Marie!
Ontmoet die finaliste:
Mej. Veltieland: ontmoet Lizelle Human
Mej. Veltieland: ontmoet Karlien Rossouw
Mej. Veltieland: ontmoet Marie Alberts
Mej. Veltieland: Ontmoet Dané Naudé



