Mej. Veltieland: Ontmoet Romé Swart

Deel hierdie storie / Share this story

Romé Swart neem deel aan die Mej. Veltieland-kompetisie van Hoërskool Duineveld en bring ‘n inspirerende beeld na vore van ‘n jong dame met ‘n passie vir liefdadigheid. Sy glo dat Mej. Veltieland nie net ‘n skoonheidskompetisie is nie, maar ‘n geleentheid om ‘n positiewe verskil in die gemeenskap te maak.
Lees meer oor mej. Veltieland hier.

“Vandat ek ‘n klein dogtertjie was, was Mej. Veltieland al deel van Upington. En as klein dogtertjie het ek altyd vir my ma gesê dat die meisies so mooi is en dat ek ook eendag op daardie verhoog wil wees.”

Al die mej. Veltieland-rokke word deur Mari-Leen Bauermeister, bekende mode-ontwerper, gemaak. Al die rokke sal ook te koop wees ná die geleentheid.

“Dit was wat my die meeste geïnspireer het van Mej. Veltieland, die liefde en omgee vir jou medemens en diere in jou gemeenskap,” vertel Romé. “Ek hoop om uit hierdie ervaring my gemeenskap en diere beter te leer ken en te sien dat ‘n mens ‘n verskil kan maak in mense se lewens, al is dit in jou eie gemeenskap, want elke bietjie tel.”

Een van Romé se doelwitte met hierdie kompetisie is om meer bewusheid te skep rondom liefdadigheid. Sy beskou haar platvorm as ‘n Mej. Veltieland-finalis as ‘n geleentheid om mense te inspireer om betrokke te raak en nie net in Upington nie. “Sodoende sal ‘n mens meer vir liefdadigheid kan doen as wat net Upington kan doen, want hoe meer mense bewus is en bereid is, hoe groter van ‘n impak sal ‘n mens kan maak,” sê sy.

Romé deel ook ‘n insiggewende perspektief oor selfvertroue. Vir haar is dit om jou ware self te omhels en te glo in die unieke persoon wat jy is. Sy moedig ander jong mense aan om hul eie selfvertroue op te bou deur uitdagings aan te pak en te weet dat hulle waardevol is. “Jy moet jouself wees, die mens wie God jou gemaak het om te wees,” sê sy.

In die aanloop tot die Mej. Veltieland-kompetisie het Romé nie net fisies voorberei nie, maar ook geestelik. Sy sê dat sy dit alles sal hanteer deur haarself te wees en elke oomblik van die kompetisie te geniet. “Op die ou end gaan dit net jy op daardie verhoog wees en die beste ding dan is om dit net te geniet en jouself te wees,” sê sy met selfvertroue.

Sy is ook bewus van die uitdagings wat tieners vandag in die digitale era ervaar, insluitend die druk om ‘n ander persoon op sosiale media te wees. “Tieners van vandag sien soveel modelle, atlete, akteurs en nog vele meer op sosiale media en probeer dan iets of iemand wees wie hulle nie is nie,” sê Romé. Sy benadruk die belang van selfsorg en selfontplooiing om gemotiveerd en standvastig te bly.

Romé het groot drome vir die toekoms en wil ‘n mediese rigting ingaan om mense te help. Sy berei haarself voor vir hierdie uitdagings deur hard te werk en haarself te bly, en sy is vasbeslote om ‘n positiewe impak in die wêreld te maak.

Volg Romé op Instagram hier.

Baie sterkte, Romé!

Ontmoet die finaliste:

Mej. Veltieland: ontmoet Lizelle Human

Mej. Veltieland: ontmoet Karlien Rossouw

Mej. Veltieland: ontmoet Marie Alberts

Mej. Veltieland: Ontmoet Dané Naudé

Mej. Veltieland: Ontmoet Mari Human

Mej. Veltieland: Ontmoet Romé Swart