Versuim om vir finansiële krisis te beplan laat inwoners van Noord-Kaap in die steek

Deel hierdie storie / Share this story

*PERSVERKLARING

Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap is besorgd dat die provinsiale regering versuim om behoorlik vir die impak van die nasionale finansiële krisis te beplan.

Vrae wat tydens gister se huissitting gestel is, bevestig dat die provinsie die begroting met R750 miljoen gaan sny. Dit sal ‘n beduidende impak op basiese dienslewering en die vermoë van departemente om hul pligte na te kom, hê. Ons stem saam met die LUR vir Finansies, Ekonomiese Ontwikkeling & Toerisme, Abraham Vosloo, dat dit ‘n groot som vir die provinsie is.

Maar ons is besorgd dat LUR Vosloo die impak van die nasionale finansiële krisis op die provinsie afmaak as ‘n nietigheid. Baie projekte wat vir die groei van die Noord-Kaapse ekonomie beplan word, is afhanklik van befondsing van nasionale rolspelers. Dit sluit die ontwikkeling van die Boegoebaai hawe as ‘n strategiese projek sowel as hernubare energieprojekte in.

Voorwaardelike toelaes beloop 25% van die provinsiale begroting en dienslewering in die Noord-Kaap is kwesbaar vir enige moontlike verminderings in die toelaes. As die nasionale regering besluit om befondsing na die provinsie te sny, wat sal gebeur met die dienste en die mense wat hiervan afhanklik is?

Dit lyk asof die provinsie nie enige antwoorde op hierdie vrae het nie. Die DA is van mening dat ons die metodes moet gebruik wat suksesvol in DA-beheerde areas aangewend is. Dit sluit ‘n onmiddellike verbod op spyseniering, vermaak en ander onnodige uitgawes wat eerder aan basiese dienslewering gewy kan word. Ons moet die aankoop of verhuring van luukse voertuie vir amptenare stopsit. Hierdie fondse kan eerder gebruik word om voertuie en masjienerie vir noodsaaklike dienste aan te koop, soos ambulanse en masjienerie wat gebruik word om provinsiale paaie te herstel.

Die DA is die enigste party wat die Noord-Kaap kan red.

*PERSVERKLARING

Lees ook: Sol Plaatje Ward 1 residents must vote for the greater good of Kimberley