Ruchelle Kotzé, van Namibië, droom om ‘n verskil in die wêreld te maak. Sy is een van die finaliste in die mej. Veltieland-skoonheidskompetisie, van Hoërskool Duineveld.
Ruchelle sê 2023 was vir haar ‘n jaar van uitdagings aanpak en nuwe dinge probeer. “Mej. Veltieland is dubbeldoelig en gee vir my die geleentheid om iets vir myself en ander mense en diere te doen. Ek kom uit ‘n baie klein dorpie in Namibië met baie min uitdagings en geleenthede, so Mej. Veltieland is die perfekte geleentheid om myself uit te daag. Ek hoop om nuwe ervaringe op te bou en dat hierdie geleentheid vir my ook baie van myself sal leer.”
Lees meer oor mej. Veltieland hier.
Een van Ruchelle se grootste doelwitte in Mej. Veltieland is om ‘n bron van positiewe invloed te wees. “My grootste doelwit is om positiwiteit uit te beeld en die Here se lig uit te straal soveel as wat ek kan. “Ek het geleer dat bewusmaking ‘n baie groot verskil in die skool en gemeenskap kan maak. Ek sal dus my platform gebruik om mense in te lig oor die uitdagings in ons gemeenskap en hoe ons almal ‘n positiewe bydrae daarin kan hê.”
Selfvertroue het ‘n besonderse betekenis vir Ruchelle. Sy glo dit beteken om jouself volkome te aanvaar, sonder om jouself deur ander se menings te laat beperk. “Selfvertroue vir my beteken dat jy gemaklik kan voel om 100% jouself te wees, maak nie saak hoeveel mense nie daarvan hou nie. Op ‘n stadium in my lewe het ek nie geweet tot wat ek in staat kan wees nie. Ek probeer nog steeds elke dag om myself nie te limit nie en om uit my gemaksone te kom, dit het my selfvertroue opgebou.”
Mej. Veltieland het vir Ruchelle ‘n nuwe perspektief gegee oor die waarde van harde werk en toewyding. “Ek is die meeste opgewonde vir die eindresultate omdat dit ’n refleksie is van al die doelwitte wat ons bereik het en dit wat ons deur die jaar geleer het.”
Gedurende hierdie tyd van haar lewe besef Ruchelle ook die uitdagings wat tieners in die moderne wêreld ervaar. “Goeie tydsbesteding en prioritisering is hedendaagse uitdagings vir tieners. Omdat ons baie keer ons aandag aan onbelangrikke dinge spandeer, kan dit veroorsaak dat ons opsies vir na skool verminder word. Ek vat dit dag vir dag en probeer elke dag my beste om my weeklikse take te voltooi. “Ek gaan ‘n oorbruggingsjaar vat na skool om my kennis oor die wêreld te verbreed. Na die oorbruggingsjaar glo ek dat ek meer sekerheid sal hê oor dit wat ek in die toekoms wil doen.”
Al die mej. Veltieland-rokke word deur Mari-Leen Bauermeister, bekende mode-ontwerper, gemaak. Al die rokke sal ook te koop wees ná die geleentheid.
Ontmoet die finaliste:
Mej. Veltieland: ontmoet Lizelle Human
Mej. Veltieland: ontmoet Karlien Rossouw
Mej. Veltieland: ontmoet Marie Alberts
Mej. Veltieland: Ontmoet Dané Naudé



