NOORD-KAAP – ‘n Tienermeisie wat gereeld nagmerries ondervind na haar verkragting, se verkragter, Elrico de Koker (32), is na meer as ‘n jaar gevonnis.
“De Koker is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis nadat hy ‘n 14-jarige meisie op 14 Maart 2020 omstreeks 17:00 in ‘n leë informele huis in Riemvasmaak op Postmasburg verkrag het. Die voorval het glo plaasgevind nadat haar tannie se kêrel (die beskuldigde) haar gedwing het om saam met hom te gaan water haal,” sê kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder.
Tienermeisie kry nagmerries
Die beskuldigde het haar gedreig om vir niemand van die voorvql te vertel nie. Op 6 Augustus 2020, nadat sy talle nagmerries beleef het, het haar ma agterdogtig geraak en vermoed dat iets fout is. Die tienermeisie het haar meegedeel dat sy deur die beskuldigde seksueel aangerand is.
Gamieldien sê verder die beskuldigde het die polisie ontduik. Op 30 November 2020 is die polisie ingelig dat die beskuldigde op die pad tussen Kuruman en Kathu stap. Toe polisielede hom nader, het hy een van die lede met ‘n skerp voorwerp gesteek. Hy is toe in hegtenis geneem en aangekla.
De Koker het in aanhouding gebly tot sy vonnisoplegging. Sy naam is in die nasionale register vir seksuele oortreders aangeteken en hy is ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die ondersoekbeampte, a.o. Deborah Bob, is geprys vir haar ondersoekwerk wat tot die skuldigbevinding en vonnisoplegging gelei het.
LEES OOK: Vier boeties vanoggend op pad skool toe ‘ontvoer’
LEES OOK: Man hang vrou, laat lyk soos selfdood
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



