POLOKWANE – Die polisie in Westenburg het ‘n groot soektog begin na ‘n groep verdagtes na vier boeties vanoggend na bewering uit die voertuig wat hulle skool toe vervoer het, ontvoer is. Die voorval het om 07:00 plaasgevind
“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die boeties van ses, 11, 13 en 15 jaar oud, almal leerlinge van ‘n private skool in Dalmada, aan die buitewyke van Polokwane, met geweld uit hulle motor deur ‘n groep van ongeveer sewe gewapende verdagtes geneem is,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.
Die 64-jarige bestuurder het die kinders na bewering by Nirvana gaan haal en op die R37-pad naby die N1-afdraai gery, toe hy na bewering skielik deur twee voertuie, ‘n wit Kia Sorento en ‘n swart Mercedes-Benz, geblokkeer is. Altesaam sewe insittendes, geklee in wit oorpakke, het uitgeklim en begin skiet.
Selfone gevind na vier boeties glo ontvoer is
“Die verdagtes het toe die vier kinders uit die voertuig in hul Mercedes Benz gedwing en daarna in die rigting van die R81-pad gery. Die kinders se motorbestuurder met sy voertuig is op die toneel agtergelaat. Die polisie is in kennis gestel en het dadelik begin met ondersoeke.
Mojapelo sê verder die selfone van die kinders is later in Flora Park agtergelaat gevind. Die motief vir die voorval is in hierdie stadium onbekend, maar die polisie ondersoek dit.
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het ‘n ondersoek op hoë vlak beveel wat ook die polisie se lugvleuel betrek. Enigiemand met inligting oor die voorval, moet dringend die ondersoekbeampte, kapt. Ntlane Rasedile, by 0825658566 of die misdaadstopnommer by 0860010111 skakel.
LEES OOK: Geen leidrade na vrou spoorloos verdwyn tydens inkopies
LEES OOK: Man hang vrou, laat lyk soos selfdood
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



