Luitenant-kolonel verskeie kere tydens beweerde sakeroof geskiet

Deel hierdie storie / Share this story

POLOKWANE. – Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, is diep geskok ná die moord op ‘n 58-jarige lt.kol. Tshitereke Freddie Masuvhelele. Hy is op 8 Oktober 2021 tydens ‘n beweerde sakeroof doodgeskiet.

Die voorval het by Masuvhelele Enterprise op Malonga plaasgevind.

“Daar word beweer dat die twee seuns van die oorledene die winkel wou sluit toe twee onbekende manlike verdagtes hulle met vuurwapens dreig en kontant sowel as ‘n selfoon van hulle gesteel het. Die oorledene was agter die winkel besig om te eet,” sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder.

Daarna het hy glo sy seuns skeeuend sien weghardloop en besluit om ondersoek te gaan instel. Hy het een van die drie verdagtes teëgekom, waarna hy verskeie kere geskiet is.

“Die verdagtes het met ‘n wit VW Polo van die toneel gevlug met ‘n onbekende registrasienommer van Gauteng, en ‘n wit Toyota Run-X.”

Die polisie en lede van die mediese nooddienste is ontbied en hulle het die liggaam van die oorledene met verskeie skietwonde gevind.

‘n 72 uur aktiveringsplan is begin om die verdagtes op te spoor.

Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan lt.kol. Hillman Matumba by 0714816876, Crime Stop-nommer 0860010111 kontak.

LEES OOK: 14-jarige vermis, los brief vir haar pa agter

LEES OOK: ‘Netcare 911-vrou wou nie hond langs pad aflaai nie’

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.