Ek sal nooit die oomblik vergeet toe ons van vakansie af terugkom en ons oor die randjie van Trio-Boerdery ry nie. So ver soos wat die oog kan sien, was dit pikswart. My siel het skielik pikswart gevoel. My man was baie sterk en het gesê hierdie is net tydelik. Ons gaan hierdeur kom!
Bloemfontein Online Co. gesels met Alitia Koekemoer (26) boervrou van Plaas Paardekraal net buite Bloemfontein, oor die vernietigende brande wat in Julie vanjaar veroorsaak het dat hulle 65% van hulle weiding verloor het, die herstelpad wat hulle die afgelope drie maande gestap het en die dankbaarheid wat hulle in hul harte het ná soveel mense hulp aangebied het.
Alitia en Johan Koekemoer (28) woon al vir drie jaar op die plaas en het twee hondekinders, Boesman en Zoey.
Die brande het op 12 Julie vanjaar vlamgevat en Alitia vertel sy en Johan was in Mosambiek met vakansie toe die brande begin het. “Ons was in Mosambiek om vir my ouers te gaan kuier. Ek dink die Here wou nie gehad het ons moes by die huis wees nie. Wie weet wat kon gebeur het of wie kon seergekry het in die vuur?”
Alitia en Johan het ‘n projek begin waarmee hulle granaatboompies vestig en behalwe vir die 65% van hulle diere se weiding wat vernietig is en die groot verliese wat hul bure opgedoen het, het die helfte van hulle granaatboord ook gebrand. “Ons besproeiingspype het gesmelt en ons drade was plat.”
Alitia vertel sy glo die Here se hand was definitief oor hul diere. “Ons het geen veeskade gehad nie. Maar die boere om ons het vreeslike hartseer veeverliese gehad. Die diere is in ons sorg geplaas en jy as boer het ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle. Jy voel of jy die diere in die steek gelaat het. Hulle is onskuldig. So ook die skilpaaie wat nie vinnig genoeg vir die vlamme kon vlug nie, die klein bokkies, Springbokke, perde wat doodgebrand het omdat die vuur hulle teen ‘n draad vasgekeer het. Dit voel soos jou eie skuld.”
Alitia vertel van die magtelose gevoel wat hulle ervaar het toe die brande uitgebreek het en hulle is 1 500 km weg van die plaas af. “Ons hande was letterlik afgekap. My man was so helder deur alles, ek het hom bewonder! Al wat in ons mag was om te doen, was om te bid, en dit het ons gedoen sonder ophou. Ek glo dis hoekom die Here ons vee en groot dele van ons weiding bewaar het.”
Alitia sê een van die dinge wat mense wat nié brandbestryders is of al ooit by brandbestryding betrokke was nie, is dat boere en hulle plaaswerkers nie opgelei is om brande te bestry nie. “Maar hulle het geen keuse as om dapper te wees nie.”
Sy vertel hoe hulle dadelik oproepe gekry het van mense wat hulle in dié moeilike tyd wou bystaan. Familieboere van die Noordwes het vir Alitia en Johan ‘n trok vol suikerboontjiebale op hul eie onkoste gestuur en ‘n boer van Koffiefontein, wat Alitia-hulle van geen kant af geken het nie, het vir hulle weiding aangebied vir 50 van hulle beeste.
“Hierdie mense was Godgestuur. Mag die Here hulle drie keer meer seën. Mens voel so verleë en vol trane wanneer die Here vir jou hulp stuur. Want ons voel ons verdien dit nie.”
Verder vertel Alitia die boerevereniging en boeregemeenskap is “raakvatters”. “Hulle het ons en die ander boere wat geaffekteer is, só mooi gehelp met voerskenkings en kospakkies vir ons werkers. Een boervrou het selfs die inisiatief geneem om ‘n sielkundige te nader om vir ons vroue berading te gee oor hoe om ons mans te ondersteun. Dit was definitief een van die waardevolste insette van die brand in my lewe.”
“Jy gaan ver gaan in die wêreld om ‘n gemeenskap soos die Jagersfontein- en Fauresmith-gemeenskappe te vind! Dis hartsmense, Godvresende mense! Mense wat daar is vir mekaar in nood! Mense wat jy kan vertrou om jou kinders by te laat speel!”
Alitia vertel dankbaar hoe hulle gebede werklik verhoor is. “Ons harte is voller as wat dit was voor die brand. Dankie vir elke liewe een se bydrae op alle moontlike maniere.”
“Ons as familie het definitief op ‘n pad van genesing gestap oor die afgelope drie maande. Maar ons kan nou oor daai randjie van Trio-Boerdery ry en so ver soos die oog kan sien, is dit lemmetjiegroen velde! Dit is die definisie van hoop!”



