FOTO’S: Een brand, miljoene se skade vir boer

Deel hierdie storie / Share this story

NOORD-KAAP. – Gerhard Graaf, ‘n boer in die Hopetown-omgewing, vertel van die brand wat twee weke gelede 10 km van hulle plaas uitgebreek het en groot skade veroorsaak het.

Graaf vertel van die brand wat miljoene rande se verliese tot gevolg gehad het.

“Ons is nog besig om alles bymekaar te tel en die somme te maak. Daar is baie berekeninge wat gemaak moet word en ingedien moet word. Slegs dan sal ons die werklike skade van die brand weet. Maar ons praat van miljoene.”

Die boeregemeenskap was nog altyd bekend daarvoor dat hulle nooit huiwer om mekaar te help nie. Daarom het die boere op die betrokke naweek van die brand vinnig bymekaargekom en saam teen die brand geveg.

“Daar was baie boere. Almal het gehelp. En dit is nie net die boere wat help nie, dis die boervrouens ook. Soos die boere swoeg en sweet om die brand te bestry, dra die vrouens broodjies en kos aan. Almal help, daar waar daar hulp nodig is. Bakkies water word gebring en boere veg tot laat.”

Die brand was teen Maandagaand om 21:00 eers onder beheer.

Presiese skade van brand moet nog bepaal word

‘n Trekker, karavaan en 19 koeie is maar net van die bates wat Graaf tydens die brand verloor het. Alhoewel die brand nou geblus is en almal weer aangaan met hulle lewens, sit die boere steeds met die skade en moet hulle weer hard werk om op hulle voete te kom.

“Na die brand geblus is, stop die werk nie. Mens is nou afhanklik van ander boere. Boere in die gemeenskap voorsien ons van voer. Indien die diere nie genoeg weiding het nie, kan hulle ook na buurboere gestuur word waar weiding beskikbaar is. Een van die groot dinge is om die veld weer te laat groei en dit gebeur nie oornag nie. Die laaste opsie is altyd om die diere te verkoop.”

Graaf vertel dat brande hier nie te algemeen is nie. In 2018 het hy ‘n brand gehad waartydens een van sy kampe afgebrand het. Die brand het deur weerlig ontstaan.

“Die brand van twee weke gelede se oorsaak moet nog bepaal word. Of dit brandstigting was, kan ons nog nie sê nie.”

Volgens Graaf is daar baie sosialemediagroepe waarop boere mekaar ingelig hou oor brande. “Dis goed dat ons weet wat aangaan. En dan kan help. Ons het ‘n goeie reënseisoen gehad en die gras staan hoog en bosse is baie. Dit maak ons werk baie moeilik wanneer ons brande moet bestry, want die bakkies kan dan nie altyd oral ry nie.”

LEES OOK: Vrou in uniform wou glo ‘hond langs pad los’

LEES OOK: ‘Jesus was langs my bed’ – Hanna vertel van geboorte toe sy amper sterf

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.