Monica Mazzoncini (27), ’n onderwyser by Hoërskool Rietvale, sê sy het altyd as kind skool-skool by haar huis gespeel en haar ouers gesmeek om vir haar ’n swartbord te koop.
“Ek het van kleins af skool-skool by my huis gespeel en wou altyd hê my ouers moes vir my ’n skryfbord koop sodat ek met bordkryt daarop kon skryf. Ek het ook altyd vir myself merkwerk gegee.”
As gebore Kimberliet het Monica na haar onderwysers by Hoërskool Noord-Kaap opgekyk, maar die onderwyser wat vir haar lewenswetenskappe gegee het, het onbewus haar passie vir lewenswetenskap en ook om vir kinders te leer, wakker gemaak.
Monica vertel sy het haar studies by NWU se Phatsimang-kampus in Galeshewe voltooi en werk al vir vier jaar by Hoërskool Rietvale.
“Ek glo die grootste verskil wat enigiemand in die lewe van ’n leerder kan maak, is om te luister. Ons werk elke dag met honderde verskillende leerders met verskillende persoonlikhede. Om elke leerder op dieselfde manier te hanteer, sal nooit positief uitwerk nie.”
Monica vertel ook onderwysers kry swaar tydens die pandemie.
“Om eerlik te wees, Covid het baie onderwysers laat uitbrand. Dié uitdaging is iets wat ons nog nooit in die onderwys beleef het nie, veral met die regulasies. Dan is daar ook die vrees vir die virus.”
Monica sê wanneer jy ’n onderwyser is, gebeur daar so baie spesiale oomblikke, maar wanneer ’n leerder vir jou dankie sê, is dit ’n fantastiese gevoel en maak dit al die harde werk die moeite werd.



