Vier amptenare van Noord-Kaapse departement in hegtenis

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Vier senior amptenare van die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (DEDAT) is deur die Kimberley-ondersoekspan van die Valke in hegtenis geneem.

Die inhegtenisnemings is vanoggend gedoen.

“Die verdagtes tussen die ouderdomme van 47 en 66 jaar sal na verwagting in die Kimberly-landdroshof op aanklag van bedrog, die oortreding van die diamantwet en die Wet op die Bestuur van Openbare Finansies verskyn. Hierdie aanklagte volg na befondsing van ongeveer R6,7 miljoen gedurende die boekjaar 2010/2011 van die Europese Unie ontvang is. Die fondse was bedoel vir die opleiding van studente in die sny en poleer van ongeslypte (ongepoleerde) diamante,” sê lt.kol. Philani Nkwalase, polisiewoordvoerder.

Die diamante is in Maart 2011 na bewering van ‘n privaat entiteit gekoop sonder die nodige lisensies om ruwe diamante te koop. Gevolglik is hierdie diamante glo by die perseel van dieselfde privaat entiteit gestoor.

‘n Totaal van veertig studente is in dieselfde jaar ingeskryf om ‘n mynboukwalifikasie-kursus in diamantafsny en -polering te ondergaan, deur Kimberley Diamonds International Jewellery Academy (KIDJA).

“Daar is in Julie 2012 vasgestel dat die diamante weg was en nie rekenskap voor gegee kon word nie. Die Valke se ondersoek na die diamantsage het gelei tot die inhegtenisneming van vier senior amptenare van die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme.”

LEES OOK: Ma wat glo drie kinders vermoor, ‘kalm’ in hof

LEES OOK: Drie jong Suid-Afrikaanse sussies in Nieu-Seeland dood

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.