Gabrielle (Gabby) Petito (22), ’n YouTuber van Amerika, het spoorloos in die westelike Verenigde State verdwyn tydens ’n lang reis saam met haar verloofde, Brian Laundrie (23).
Die paartjie het New York op 2 Julie 2021 verlaat vir ’n vier maande lange reis in ’n omskepte kampeerwa en het ’n groot deel van die reis met helder, sorgelose plasings op sosiale media gedokumenteer.
Gabrielle Petito verdwyn
Iewers het iets skeef geloop, want Gabby se familie het haar laas op 24 Augustus 2021 oor ’n video-klets lewendig gesien.
Brian ia egter op 1 September 2021 terug huis toe sonder om Gabby se ouers in kennis te stel dat sy nie saam met hom teruggekeer het nie.
Gabby se familie het haar eers op 11 September 2021 as vermis aangemeld nadat hulle eers vermoed het dat sy in ’n area is waar daar geen sein is nie. Hulle het ook glo ’n reeks vreemde boodskappe van haar af gekry waarvan hulle onseker was oor of dit wel van haar af kom.
Liggaam word gevind
Familielede en polisie het ’n landwye soektog begin en Gabby se liggaam is op 19 September 2021 in Bridger-Teton National Forest in Wyoming gevind en formeel geïdentifiseer. Die oorsaak van haar dood is bevestig as moord.
Brian het geweier om met owerhede te praat en sy familie het die polisie na hulle prokureur verwys. Brian het kort daarna op 14 September 2021 verdwyn en sy ouers het aan die polisie gesê hy het glo gaan kamp (backpacking). Daar word vermoed dat hy met slegs ‘n rugsak na die Carlton-reservaat in Florida gegaan het, en ‘n intense soektog is ook in hierdie omgewing na hom begin, wat geen sukses opgelewer het nie.
Daar was glo ook rusie tussen die paartjie tydens hulle reis en die polisie het die twee vir ’n nag geskei.
Die polisie het ook Brian se ouerhuis deursoek.
Hierdie is ’n ontwikkelende storie.
LEES OOK: Uitreik na Zambië



