Tell The Nations, ’n interkerklike organisasie, het vanaf 20 Augustus tot 3 September 2021 ’n uitreik na Zambië gehou.
André Smith, Henk Blaauw, Steve Pretorius, Chris van der Post, Henkie van der Post, Olla Olwage, Johan de Villiers en Luben Pretorius was die agt mense wat op die uitreik na Zambië gegaan het.
Die doel van die uitreik was om twee skole te ondersteun en om die evangelie aan soveel mense moontlik te gaan verkondig.
André Smith sê een van die skole het 276 kinders en net drie onderwysers. Die gebied het ook geen elektrisiteit of lopende water nie. Die rivier waaruit water verkry kan word, is die tuiste vir gevaarlike seekoeie en krokodille.
“Hulle hou skool in modderhuisies sonder deure en vensters. Ons het vir die skool ’n sementvloer gegooi, vir die kinders skoolbanke laat bou, want hulle het nie. Ons het ook skryfbehoeftes en boeke vir elke kind gegee en hulle voorsien van kos vir elke kind vir drie maande lank.”
André vertel baie mense het genesing ontvang en hulle is ook gevra om ’n kerk daar te stig.
Chris van der Post is die eienaar van Ngombe Lodge langs die Zambezi-rivier waar hulle tydens die sending gebly het. Hy wil graag hê die evangelie moet daar ook verkondig word.
“Ons korttermynplan is om elke drie maande te gaan en mense te bedien met die evangelie, om vir die kinders kos te gee en die skool te help waar ons kan. Ons langtermyn plan is om ’n kerk te stig, ’n voltydse paartjie aan te stel om daar te bly en die kerk te bestuur. Ons wil dit ook omskep in ’n sendingstasie waar ons vir verskeie mense die geleentheid kan gee om buite in Afrika te kan bedien.
Ons beplan om in Januarie terug te gaan. Ons neem ook dan vir hulle 200 Bybels saam wat in hulle taal, Lozi, vertaal is.
Klink hier om na die 12 minute lange dokumentêr van die uitreik te kyk.














