Papapavlou-vrou en minnares terug in die hof

Deel hierdie storie / Share this story

Simone Papapavlou (26) het dié week twee keer in die Groblersdal-landdroshof verskyn nadat sy haarself op 12 Augustus 2021 oorgegee het na haar man, Raymond, op 4 Oktober 2020 doodgeskiet is.

Raymond was ‘n plaasvoorman op ‘n plaas in Limpopo. Hy is in sy woning doodgeskiet.

Saam met Simone was haar minnares, Patricia Ray Lee Smith, wat aangekla word van moord en sameswering om ‘n moord te pleeg. Sy is op 27 Oktober 2020 in hegtenis geneem, maar is later weer op borg vrygelaat.

Papapavlou-vrou stort ineen

Simone het Dinsdag vir die eerste keer na twee weke in aanhouding verskyn op aanklag van moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg, regsverydeling en die besit van ‘n vuurwapen.

Woensdag toe die twee beskuldigdes weer in die landdroshof moes verskyn, het Simone ineengestort. Sy het na bewering ‘n epileptiese aanval gehad.

In die hof is dit bekendgemaak Simone het glo ‘n geskiedenis van epileptiese aanvalle. Sy het vir ‘n tyd geen aanvalle ondervind nie, maar het na haar man se dood weer begin kry, het haar regsverteenwoordiger gesê.

In ‘n kruisondervraging is daar wel gesê Simone het geen medikasie by haar gehad tydens die inhegtenisneming nie. Die hofverrigtinge het ondanks die voorval voortgegaan.

Die uitspraak in Simone se borgaansoek sal vandag gelewer word. – Netwerk24

LEES OOK: Sasolburg – man en vrou wreed vermoor

LEES OOK: Vuilste man in die wêreld het 65 jaar laas gebad

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.