JOHANNESBURG. – Zesuliwe Mazubane (13) se ma pleit by mense om as ’n skenker te registreer nadat die aggressiefste vorm van leukemie in Januarie vanjaar by haar dogter gediagnoseer is.
Sedert Januarie is daar al oral gesoek na ’n stamselskenker, maar sonder enige sukses. Sy was veronderstel om vanjaar hoërskool toe te gaan soos enige ander tiener haar ouderdom, maar as gevolg van haar kanker moet sy dit opsy skuif.
Sy is sedertdien in en uit die hospitaal vir chemoterapie vir haar T-sel akute limfoblastiese leukemie (ALLE), bekend as een van die aggressiefste vorms van leukemie. Die afgelope sewe maande was daar nog geen sukses vir die 13-jarige nie.
Ma pleit leukemie gediagnoseer is
“Met slegs 14% van die skenkers in die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) wat donker van kleur is, word die kans om ’n gepaste skenker te vind aansienlik minder,” sê Siphokazi Dyasi, beampte by die SABMR.
Mazubane se ma sê, in ’n verklaring wat oor haar toestand uitgereik is, dat alhoewel sy ’n sterk meisie is, dit baie druk op hulle familie plaas.
“Sy is ons jongste kind. Sy is kosbaar en droom daarvan om eendag ’n kardioloog te word, sodat sy ook kan help om lewens te red. Ek pleit by die gemeenskap om hul harte oop te maak en na vore te kom om my dogtertjie te help. Die siekte is al in ’n gevorderde stadium, maar sy staan sterk en wag vir ’n skenker. Slegs ’n beenmurgoorplanting kan haar lewe red.”
Potensiële skenkers tussen die ouderdom van 16 en 45 kan die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister by 021 447 8638 kontak of e-pos [email protected]. Finansiële skenkings kan ook gemaak word.
LEES OOK: Fondsinsameling gee ma (35) met kanker weer nuwe hoop
LEES OOK: KYK: vrou gesels na sy en kinders op plaas aangeval, aangehou is
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



