Baba (7 weke) beland in hospitaal met Covid-19

Deel hierdie storie / Share this story

Junita Mynhardt, ‘n ma van twee, sê sy wil ander ouers waarsku dat kinders ook dodelik siek kan raak van Covid-19 ná haar sewe week oue seuntjie daarmee in die hospitaal beland het.

“Dis verskriklik as jy in die middel van die nag hoor hoe hulle skree ‘Code red’ en hoe verpleegpersoneel dan hardloop om die pasiënt te help. Maar wat vir my die ergste was, is toe ons uit die hospitaal ontslaan is, hoe almal so uit die pad uit skuif in die gange om vir ons plek te maak. Ons moes agter by die linnekamers van die hospitaal uitgaan. Dit voel asof jy melaats is,” vertel Mynhardt.

Sy, haar man en haar twee kinders, Maverick (7 weke) en Mihle (2), woon in Pretoria-Oos.

By die kleuterskool aangesteek

“My dogtertjie se juffrou by die kleuterskool het die Donderdag positief getoets. Ek het heeltyd gedink my dogtertjie se loopneusie was maar een van haar tandesny-simptome, maar toe sy Vrydag begin hoes het en haar koors hoog was, het ons besluit om haar dokter toe te vat,” vertel Mynhardt.

“Die dokter het gesê dis óf die RS-virus óf Covid-19 en dat ons haar moet laat toets. Sy het positief getoets en Saterdag het ek ook die simptome begin kry. Ek het gehoes, my lyf was seer en ek het kopseer gehad. Ons almal het toe begin simptome toon, maar my seuntjie van sewe weke se koors het die hoogte ingeskiet. Ons is met hom pediater toe en hy wou hom dadelik laat opneem.

‘Die hospitale is vol’

“Maar die hospitale was vol. Ons het die Life Wilgers-hospitaal, MediClinic Midstream en Life Groenkloof-hospitaal gebel, maar die hospitale se kindersale is álmal vol en ons het later die pediater gebel en gehoor of hy vir ons ‘n plan kan maak. Dis toevallig dat daar ‘n bed by Unitas oopgegaan het vir my en Maverick.”

Mynhardt en haar seuntjie is in die hospitaal opgeneem en sy sê Maverick was gelukkig om nie aan ‘n ventilator gekoppel te word nie. “Ek weet van twee babas wat in die tyd wat ek daar was in die ICU was met Covid-19. En mense het gemaak of kinders nie so ernstig siek raak as hulle Covid-19 kry nie.”

“Wat ‘n mens ook nogal angstig gemaak het in die hospitaal, is dat wanneer jy die knoppie druk, hulle sommer drie op ‘n slag daar inbars en vra ‘What’s wrong? What’s wrong?”, want alles word gesien as nood.”

Baba (7 weke) beland in hospitaal met Covid-19 (Foto's: Junita Myhardt, Facebook)
Baba (7 weke) beland in hospitaal met Covid-19 (Foto’s: Junita Myhardt, Facebook)

Binne twee dae ontslaan

Mynhardt en Maverick is binne twee dae ontslaan omdat die hospitaal moes plek maak vir ‘n ander ma en baba. Hulle sterk tans by die huis aan.

Mynhardt het in ‘n plasing op Facebook haar frustrasie uitgespreek oor die feit dat soveel mense dink dat kinders nie ernstig siek kan raak met Covid-19 nie.

“Dis hoekom ek besluit het om die post te maak,” sê sy. “Om ander ouers bewus te maak dat kinders dit kry en dat sommiges aan ventilators of in die ICU kan opeindig. Dis die ergste siek wat my dogtertjie nog was en dis baie emosioneel vir ‘n ouer.

“As jou kind simptome toon of koors kry, vat hulle dokter toe of laat hulle toets. Hoe langer jy wag om met fisio te begin of behandeling te ontvang, hoe erger. Kry so vinnig as moontlik hulp. En hou jou kinders by die huis.”

Lees ook: Jong ma en baba sterf aan Covid-19

Lees ook: KYK: Pasiënt dood, geen personeel in Covid-19-saal