Jong ma en baba sterf aan Covid-19

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Jong ma van Rustenburg is op 29 Junie aan Covid-19-komplikasies oorlede en het haar ongebore babatjie ook verloor kort voor haar dood.

Ma toets Covid-19 positief

Melisca Emmenis (23) het op 15 Junie positief getoets vir Covid-19 na iemand by haar werk positief getoets het. Sy was ses maande swanger met ‘n babadogtertjie, Marizelle. Sy en haar man, Harry Emmenis, was beide baie versigtig voor hulle die virus opgedoen het.

Harry, met wie Melisca twee jaar getroud was, het ook die virus opgedoen, maar het byna geen simptome getoon nie.

Eers gewone griep

“Die dokters het aanvanklik gesê Melisca moet die virus net soos ‘n gewone griep hanteer en tuis bly,” vertel Marelize Thorpe, Melisca se ma, aan Netwerk24. “Hulle het gesê sy is nie in gevaar nie omdat sy jonk is.”

Emmenis het toe al hoe sieker geraak tot sy een aand opgebring het. Alhoewel haar suurstofvlakke nie laer as 95 was nie, het Harry haar hospitaal toe geneem omdat sy nie kon asem kry nie.

Die hospitaalpersoneel het vir haar gesê sy is nie siek genoeg om opgeneem te word nie. Sy is met voorskrifmedisyne huis toe, maar is twee dae later toe wel opgeneem.

Baba, ma sterf na noodkeiser

Klein Zellie, soos Melisca haar baba sou noem, is op 28 Junie met ‘n noodkeisersnee in die wêreld gebring en Melisca het die volgende dag net skielik agteruitgegaan en gesterf.

Thorpe sê die familie is nie seker of Marizelle voor haar geboorte of kort daarna oorlede is nie.

“Ek kan en wil dit nog nie glo nie. My hart wil uit my bors skeur, net as ek rustig probeer raak. Ons mag nie vrae vra nie, maar ek kan nie help om te bly vra: Hoekom?! Melisca, my kind, jy is weggeruk uit ons lewe, Covid-19 het jou en Zellie kom steel! Harry, ek is seer en stukkend saam met jou, jy sal nie alleen agterbly nie. Ons is familie,” lui ‘n inskrywing op Facebook.

Melisca en Marizelle is veras.

Marelize sê aan FiND iT sy voel hoe meer mense bewus is van die gevare daaraan verbonde om Covid-19 op te doen, hoe beter.

“Hoe meer mense weet dat swanger vrouens en hulle babas ook in gevaar is as dit by die virus kom, hoe beter.”

Lees ook: Pasiënt dood, geen personeel in Covid-19-saal

Ontvang daagliks gratis, deurdagte, feitelike nuus! FiND iT het ’n lesersplatform van 300 000 lesers. Julle lees elke maand meer as 1 miljoen keer ons artikels. Om dit vol te hou en gratis te hou, steun FiND iT op advertensie-inkomste en ondersteuners.

As jy ’n ondersteuner van FiND iT wil word deur ’n maandelikse of eenmalige bydrae, stuur ’n e-pos aan [email protected].

FiND iT is ’n onafhanklike maatskappy, onder die vaandel van Dottry Media (Pty) Ltd en word privaat befonds.

FiND iT het ook sy eie interne ombudsman, Johan Retief, wat die voormalige ombud van Suid-Afrika is. Dus is jy verseker van gehalte nuus, heeldag lank, gratis.