DURBANVILLE. – Hetty Bruwer (49) wat reeds 82 kg verloor het deur middel van die 28 dae eetplan, het ses maande gelede besluit om ander vroue ook te help met hulle gewigsverlies.
Die 28 dae eetplan, wat ‘n paar jaar gelede opslae gemaak het, is ‘n spesifieke uitgewerkte program om optimale gewigsverlies te bevorder.
Eers skepties
“My seun (18) het my vertel van die 28 dae eetplan. Ek was eers baie skepties, maar toe ek eers die keuse maak om dit te probeer, was dit maklik. Hier staan ek vandag, 80 kg ligter, en ‘n prinses in my eie feëverhaal,” het sy in ‘n vorige onderhoud met FiND iT gesê.
Idee om ander te help
“Ek het mos self so baie gewig verloor en ek het gewonder wat ek nou kan doen om ander te help. Ek het vir ‘n rukkie met die idee in my gedagtes rondgeloop totdat iemand my gevra het om haar te help,” vertel Bruwer. “Dit het baie goed gegaan en toe het ek besluit ek wil nog vroue help. Vandag het ek al honderde gehelp!”
Bruwer sê dit is vir haar ongelooflik om te weet hoeveel vrouens sy daagliks motiveer om beter weergawes van hulself te wees. “Dit is ook baie rewarding om vroue se vordering te sien!”

Lees ook: Twee geskors vir dissiplinêre verhoor oor boelie-voorval
Maak tyd daarvoor
Bruwer, wat in Durbanville woon, werk ook en maak tussen werk en oefen tyd om ondersteuning te bied aan ander vrouens wat die eetplan aandurf.
Bruwer bestuur ‘n paar Whatsapp-groepe waarin sy daagliks raad gee, motiveer en kos-idees uitruil. “Ek probeer dit maar so interessant as moontlik hou.”
Sy ontmoet van die lede van haar groepe persoonlik en praat só met hulle oor wat hulle wil bereik.

Sy beplan ook nou om ‘n stapgroep vir haar en ander vroue in haar omgewing te begin.
Volg eetplan steeds
Bruwer sê sy self volg die eetplan steeds, alhoewel sy nie nog gewig wil verloor nie. “Dit sal nie gesond wees vir my as ek nog meer verloor nie. Maar die eetplan en om ander te help, is nou soos ‘n tweede lewe vir my. Ek eet net na elke rondte ietsie soets, en dan begin ek weer.”
Lees ook: Polisie sê Simoné se dood wás selfdood









