‘Só het ek 80 kg verloor’

Deel hierdie storie / Share this story

“Ek het drie weke later by die huis aangekom. Die twee leë sjerriebottels het nog op die kombuiskas gelê. Daardie dag het my lewe onherroeplik verander.”

Hetty Bruwer (47) vertel hartseer van die ses jaar wat sy haar aan alkohol en gemorskos oorgegee het, nie omgegee het hoe sy lyk nie en geen belangstellings gehad het nie. Tot die dag wat sy met ‘n verskriklike hoofpyn in ‘n vreemde bed wakkergeword het…

Sy woon in Durbanville en is nou dolgelukkig, gesond en tevrede. Sy sê sy het uiteindelik haar doelgewig ná twee jaar se harde werk bereik.

“My seun (18) het my vertel van die 28 dae eetplan. Ek was eers baie skepties, maar toe ek eers die keuse maak om dit te probeer, was dit maklik. Hier staan ek vandag, 80 kg ligter, en ‘n prinses in my eie feëverhaal.”

Sy sê sy het haar pad na gewigsverlies een dag op ‘n slag aangepak en altyd gefokus gebly. Sy is nou op die Facebook-groep vir dié eetplan en bemoedig daagliks honderde vroue om vol te hou om hulle doelgewig te bereik.

Sy sê sy het vir die eerste jaar nie geoefen nie. “Ek wou eers van die meeste gewig ontslae raak, sodat ek makliker kon rondbeweeg. Ek het aan die begin net drie maal per week gedraf. Vandag draf ek maklik 10 km en oefen met gewigte. Oefening is nou soos my tweede asem!”

“Ek het nooit eetlusdempers of aanvullers gebruik nie. Ek het die ou boereraat gevolg: Drink jou water!”

Sy sê ook om van oortollige velletjies ontslae te raak, is glad nie vir haar ‘n prioriteit nie. Sy sê elke vel en elke plooi is vir haar die moeite werd.

“Vir elke dame wat nie weet hoe om te begin nie of al tou opgegooi het, probeer net weer. En bly gefokus, selfs al verloor jy vir weke niks nie.”

Lees Janja Wills, nou 100 kg ligter, se verhaal hier.