“Ek wil dit nie stilhou nie. Ek wil hê die hele wêreld moet weet!”
Janja Wills (33) het byna 6 000 volgelinge op haar Instagram-profiel. Sy is ’n ware bron van inspirasie en wil graag ander motiveer deur haar suksesverhaal. Sy het drie jaar en ses maande gelede besluit om haar lewe te verander. Sy vertel hoe sy oudergewoonte op die bank gesit en brood eet het. “Dit het skielik gevoel asof ek ’n hartaanval kry. Dit het my net getref: Ek het ’n omkeerpunt in my lewe bereik.”
Wills is die ma van ’n sewejarige dogtertjie. Sy en haar dogter woon in Kempton Park in Gauteng en sy besit haar eie besigheid, Freshly Veg.
Sy glo nié aan dieetpille, diëte of aanvullings nie en het deur bloot “aktief te raak” ’n volle 100 kg afgeskud.
“Ag, mens raak so gewoond aan jou lyf as jy so groot is. Jy raak gewoond daaraan om snags ongemaklik in die bed rond te rol. Jy aanvaar later jy kan nie meer as ’n paar honderd meter loop sonder om te begin hyg nie.”
Die grootste rede vir Wills se besluit om haar lewe te verander, was haar dogtertjie. Zinike (7) was vier jaar oud toe haar ma besluit het om van die oortollige vet ontslae te raak. Wills sê sy wou graag deel wees van haar kind se lewe. “Ek wil saam met my kind buite kan rondhardloop en die lewe geniet. Ek wou nie meer die oorsaak wees van maatjies wat met groot oë na my staar en agter hulle hande fluister wanneer ek haar by die skool gaan haal nie. Dit was deurlopend my motivering om nie moed op te gee nie.”

Iemand wat die moeilike tye vir Wills makliker gemaak het, is haar vriend en persoonlike afrigter, Marek Zadlo. “Hy was van die begin af daar vir my. Hy het elke Sondag saam met my om die blok gaan stap. Ek het gedurende hierdie staptogte soveel dinge in my binneste met hom gedeel. Die feit dat ek kon praat oor wat my pla en iemand gehad het wat my ondersteun het, is wat my van die afgrond gered het.”
“Daar is ’n rede agter elke oorgewig lyf. Daar is ’n rede agter die etery. In my geval was dit dinge uit my verlede. Ek was ’n skaam kind en het nooit gepraat oor die dinge wat my gepla het nie. Almal deal met dié goed op verskillende maniere. Ek het my aan vier brode ’n dag oorgegee. Ander gebruik weer dwelms of drink.”
Zadlo het haar in die beginstadium al aangeraai om dit wat aan haar hart bly krap, eers uit die weg te ruim. Hy het vir haar gesê sodra sy die dinge vanuit haar verlede uitsorteer, dit aan haar liggaam duidelik sal wees in die vorm van ’n maerder liggaam.
Die enigste ding wat nou nog in Wills se pad staan en haar daagliks herinner aan haar groter dae, is die los, oortollige vel. Sy klink hartseer as sy sê: “Ek is goedgekeur vir die operasie om die ekstra vel te verwyder, maar finansiële redes maak dit nou bykans onmoontlik. Kan jy glo die operasie kos R138 000?“
Sy sê sy is nog nie heeltemal tevrede nie. Sy wil eendag een van die beste fikheidsmodelle wees. Sy wil haar transformasie gebruik om vir ander te wys dat dit moontlik is om sonder diëte of pille gewig te verloor. “Veranderinge in die klein goedjies kan ’n reuseuitwerking op die groter dinge hê.”








