Polisievoertuig ry na bewering agtjarige dood

Deel hierdie storie / Share this story

POTCHEFSTROOM – Lt.-genl. Sello Kwena, provinsiale kommissaris van die Noord-Wes, het in die sterkste moontlike terme ’n voorval veroordeel waarin lede van die gemeenskap in Boikhutso-lokasie buite Lichtenburg die wet in eie hande geneem het nadat ’n polisievoertuig na bewering ’n  kind (8) op 21 April raakgery het.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê na bewering het ’n voertuig van die honde-eenheid omstreeks 13:00 die kind, wat oor die pad gehardloop het, getref. Die kind is later op die toneel dood verklaar. “Na die voorval het lede van die gemeenskap die polisievoertuig aan die brand gesteek. Hulle het ook ’n ander polisievoertuig uitgebrand, asook ’n ambulans wat na die toneel ontbied is. Verder is ’n verkeersvoertuig van die plaaslike munisipaliteit met klippe bestook terwyl goedere van een van die plaaslike snoepwinkels geplunder is.”

Na die voorval is drie polisiebeamptes en twee paramedici na die hospitaal geneem vir mediese ondersoek.

Daar was vroeër ’n ongeluk waarin ’n meisie (ouderdom nog nie bevestig nie) op die toneel dood is nadat sy omstreeks 10:20 op die Ottosdal-Lichtenburg-pad naby Blydeville deur ’n Isuzu-bakkie raakgery is. As gevolg hiervan ondersoek die polisie twee afsonderlike sake van strafbare manslag. Die polisie ondersoek ook sake van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging.

Die provinsiale kommissaris het sy meegevoel aan die families van die afgestorwe kinders betuig. Hy het ook sy afkeuring van die gedrag van lede van die gemeenskap uitgespreek en hulle aangespoor om hulle daarvan weer te hou om die wet in eie hande te neem.

https://www.facebook.com/finditnuus/videos/564911770838590/