René Nel (24) was 14 jaar oud toe sy vir die eerste keer dagga gerook het. Dit was aanvanklik iets wat sy net elke nou en dan gedoen het, maar voor sy haar kon kry, was sy vasgevang in ‘n nes van dwelms, drama en depressie.
Nou, na byna 11 jaar, is sy egter losgewikkel uit die dwelmgreep en is sy ‘n bewys daarvan dat herstel wél vir verslaafdes moontlik is.
Dwelms begin gebruik
Nel het in Secunda grootgeword en dis daar dat sy dwelms begin gebruik het.
“Ek het eers net dagga gerook,” vertel sy. “Dit was nie ‘n gereelde ding nie, net elke af en toe. Toe ek 15 was, het ek CAT begin gebruik. Ná my pa se dood was die tyd dat ek regtig ernstig begin gebruik het.”
Nel se pa is in ‘n motorongeluk oorlede.
“Dit was toe net CAT voor en CAT agter. Op 16 het ek uitgevind ek is swanger. Ek kon ophou gebruik en het skoon gebly gedurende my swangerskap, maar toe my seuntjie een week oud was, het ek weer begin CAT gebruik.”
Lees ook: Wat is CAT?
CAT is die korter naam vir Methcathinone. Onder gebruikers word ook daarna verwys as Methedrone, Kitty of Meow.
Van CAT na tik
“Iemand het tik daar aangebring en gesê dis dieselfde as CAT, dit hou net bietjie langer. Ek het siek gevoel toe ek dit vir die eerste keer gebruik het. Ek het vir my kind se pa gesê dat ek dit nie weer wil gebruik nie, omdat dit my so sleg laat voel het. Ons het dit daarna in elk geval gebruik wanneer die CAT opgeraak het.
Lees ook: Wat is tik?
Tik is die Suid-Afrikaanse straatnaam vir kristalmetamfetamien.
“Kort daarna het ons dinge begin verkoop om vir dwelms te kon betaal. Dinge het van daar af net erger geraak. Ons het by my ou se ouers ingetrek, dan weer by my ma. My seuntjie was die hele tyd by my.”
Erge depressie volg
Nel vertel hoe hulle Durban toe getrek het toe haar pa se erfgeld inbetaal is. “Ons het gedink dis ‘n nuwe begin, maar na ‘n rukkie het ons maar net weer dwelms begin gebruik. Die dag toe ek my laaste R200 gebruik het, het my kind se pa ook by die deur uitgestap. Kort voor lank was ek in erge depressie vasgevang.”
Nel het weer iemand ontmoet en weer moes hulle steel om aan die lewe te bly. Hulle is uiteindelik in hegtenis geneem en het ‘n week in die polisieselle deurgebring. “Ek het my ma vanuit die tronk gebel en vir haar gesê ek is jammer, maar sy was te seergemaak. Ek moes toe my kar verkoop om ons borggeld te kon betaal.”
Die dag toe Nel in hegtenis geneem is, is haar seuntjie na haar ma toe en het haar ma toesig oor hom gekry.
Bly in tent
“Toe ek toe uit die tronk uitkom, was ons letterlik op straat. Ons het in leë huise gebly net om iewers te hê om te gebruik. Daar was ‘n stadium wat ons agter in iemand se erf in ‘n tent gebly het.”
Nel vertel van die laaste dag wat sy dwelms gebruik het. “Ek en my nuwe kêrel het te veel gebruik voor ons casino toe is. Die laaste ding wat ek onthou, is dat ek voor die masjien gesit en gesê het: ‘Liefie, ek voel nie lekker nie.’ Die ambulans moes my kom haal.
“Ek het my oë daar op die hospitaalbed toegemaak en vir die Here gevra om my asseblief uit hierdie lewe te red. Die dinge wat ek gesien het en moes ervaar, was nie mooi nie. Toe lui die hospitaal se telefoon…
“My tannie en my oom het gebel. Hulle het vir my gevra of ek bereid sal wees om rehabilitasie te ontvang en my antwoord was natuurlik ja. Die Here het my gebed beantwoord.”
Rehabilitasie
Nel was vir 18 maande in Noupoort-rehabilitasiesentrum en kon haar graad 11 daar voltooi. “Ek het eers vreeslik gesukkel om aan te pas. Ek kon vir vyf maande lank nie met my kind praat nie en elke keer as my ma gebel het, het ek gehoop dat ek dié keer met hom sou kon praat.”
“Maar ek het die Here daar gevind. Ek het elke aand op my knieë gegaan en vir Hom dankie gesê dat ek ‘n tweede kans gekry het.”
Nel is nou al twee jaar lank skoon, woon en werk nou in Pretoria en sien haar seun, nou 7, gereeld. “Ek is so dankbaar dat ek mense nou weer in die oë kan kyk. Die Here is goed vir my. Vir almal wat met verslawing sukkel en voel hulle is alleen: Jy is nie. Die Here het jou nog nooit gelos nie. Hou net aan bid. Jy kán daaruit kom!”
Lees ook: Dagga ná my kinders in die bed is: ‘Dis dieselfde as ‘n glasie wyn’
“Dis vir my so snaaks hoe vreemd almal dink dagga is,” deel Fladager met haar Instagram-volgelinge. “Niemand dink dis vreemd as ‘n ma sê sy drink ‘mom juice‘ (wyn) na haar kinders in die bed is nie. Maar wanneer ‘n ma sê sy rook dagga, is dit ‘n groot skok.”‘




