Angela Nendia (32), enkelouer en besigheidseienaar van die stad, gesels met FiND iT oor hoe sy haar drome ’n werklikheid gemaak het.
Hoe het alles begin?
Angela vertel sy het twee en ’n half jaar gelede’n foto van haarself geneem. “Ek het nie gehou van wat ek sien nie en het besluit om dit te verander.”
“Ek het by die gym aangesluit. Ek het vir Jamé Hansen as my fiksheidsinstrukteur aangestel. Ek het vir haar ’n foto gewys van hoe ek graag wil lyk en gesê ek wil binne ’n jaar of twee kompeteer.”
“Gedurende die tyd wat ons saam geoefen het, het sy soos my terapeut geword. Ek kon nie wag om gym toe te gaan nie. Dit is gedurende hierdie tyd dat ek besluit het om te studeer om ’n fiksheidsinstrukteur te word. Ek was so geboei.”
Beter dinge
“Teen 1 Desember 2018 het ek opgehou om alkohol te gebruik. 1 Januarie 2019 het ek ophou rook. Teen Maart 2019 het ek ’n totale nuwe gesonder leefstyl geleef en het my studies klaargemaak. Ek het gekwalifiseer as ’n fiksheidsinstrukteur.
Kompetisie
“In Mei het ek en Jamé besluit om teen haar man, Helgard, in die IFBB-liggaamsboukompetisie te kompeteer.” Angela het derde plek in die afdeling vir strandlywe verwerf en is gekies om die Noord-Kaap in die SA-kampioenskappe te verteenwoordig.
Soms is dit moeilik
“Dit is soms moeilik om ses dae ’n week jou besigheid te bestuur, na ure te bak en ’n enkelouer te wees. Dan moes ek nog vir my en my seun kos maak, twee tot drie keer ’n dag oefen, net sekere tye eet en seker maak ek drink die regte hoeveelheid water.”
Die moeite werd
Angela vertel dat die voorbereiding vir die kompetisie net so baie opwinding inhou. Van ’n bikini, naels, hare tot by hoe om te pose – alles moet aandag kry. Dit is wel baie stresvol. “Die eerste vyf sekondes van op die verhoog wees, was senutergend. Ek het baie van myself geleer en ook waartoe my liggaam tot instaat is. Dit is my eerste kompetisie, maar definitief nie my laaste een nie.”
Dankbaar
“Ek wil net graag vir my twee broers, Paul en Fernando – en hulle twee vrouens – baie dankie sê. So ook vir my ma en ouma. Dankie dat julle my help en ondersteun. Dan wil ek ook baie dankie sê vir my werkers en my kliënte wat die pad saam met my gestap het.”





