KIMBERLEY – Gefrustreerde verpleegkundiges van die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley het dienste tot ’n stilstand gebring, sê die DA.
Andrew Louw, DA-provinsiale leier, sê die besluit om dié hospitaal tot stilstand te bring, is ’n duidelike teken dat die risiko van ’n totale ineenstorting van gesondheidsdienste in die provinsie toeneem.
Verpleegkundiges is oorwerk en word nie betaal nie
Verpleegkundiges het geldige bekommernisse, sê Louw. Hulle is oorwerk en word voortdurend aan litigasies blootgestel weens die omstandighede waaronder hulle gedwing word om te werk. Sommige van hulle het vir ‘n gertuime tyd nie oortyd- of nagdienstoelae, wat aan hulle verskuldig is, ontvang nie. Louw sê dit is verkeerd en Mase Manopole, LUR van gesondheid in die provinsie, moet dringend ingryp.
Tekort aan verpleegkundiges
Daar is ’n tekort aan 1 556 verpleegkundiges in die Noord-Kaap. Die DA erken dat die LUR ’n beroep op afgetrede verpleegkundiges gedoen het om weer aan te sluit, maar dit het geen resultate gelewer nie.
Louw sê: “Die departement moet dringend sy aansoekproses hersien om te verhoed dat hulle gesondheidswerkers verloor. Die departement moet ook hulle finansies in orde kry om verpleegkundiges te betaal vir wat aan hulle verskuldig is. Dit is nie onderhandelbaar nie.”



