INTERNASIONAAL – Facebook dink moontlik daaraan om die aantal likes of reaksies wat ’n plasing verwerf het, geheim te hou.
Volgens ‘n bronkode wat deur Jane Wong, ’n toep-navorser, ontdek is, kan die veranderinge aan die platform die aantal reaksies wat ’n plasing verwerf het, geheim hou.
Nuwe funksie word nog ontwikkel
Wong vermoed die prototipe-funksie wat sy onlangs in die Android-weergawe van die Facebook-toep opgemerk het, nog in die ontwikkelingsproses is. Volgens die programmatuur sal die aantal reaksies aan die skepper daarvan bekend wees, maar dit sal nie aan die publiek geopenbaar word nie.
Soortgelyke veranderinge op Instagram
Wong vergelyk dit met ’n soortgelyke verandering wat sonder kennisgewing onlangs op Instagram in Kanada en verskeie ander lande aangebring is.
Nagevolge van die veranderinge
Dit het positiewe en negatiewe nagevolge, sê sy. Verbruikers kan moontlik minder angs ervaar wanneer hulle plasings populêr word. Wong sê: “Studies toon dat die gebruik van sosiale media geestesgesondheid, insluitend depressie en angs, kan beïnvloed.”
Intussen is daar nog geen persverklaring of kommentaar hieroor deur Facebook uitgereik nie.



