Meeste van die tyd as ’n groot gees sterf sal iemand sy hoed afhaal, teen sy boesem druk en sê “daar gaan ’n man verby”. In hierdie geval is die teendeel iets dalk van ’n ander aard. Dieselfde ou omie sal sy geveerde hoed afhaal, teen sy borskas vasdruk en sê daar gaan ’n duikweg heen.
’n Inwoner van Kimberley wat nie kon sien hoe sy duikweg waardeur hy al jare ry verder ly nie, het lank gewroeg oor die besluitneming om hom wel ter ruste te lê.
Die skenker van die steen wil nie sy naam genoem hê nie vanweë die teologiese implikasies van die senior amptenare se onversigtige uitspraak teen die mensdom. Die skenker is ook bekommerd dat Sol Plaatje dalk jaloers sal wees oor hoekom hulle nie eerste hieraan gedink het nie, ons ou dorpie is allermins op sy laaste bene. Die uwe is in sy hart seker indien die burgemeester van die dorp hierdie gebruik as sy laaste troefkaart en vir elke grondpad wat lank gelede teer was, ligte wat kon aan saans en af soggens en paaie wat vol rommel besaai lê, elkeen met ’n grafsteen groet, sal dit potensiële kiesers se denke verander.
Die burgemeester sal kan uiting gee aan sy emosies en vir die gemeenskap wys hy het ’n sagter kant. Die premier sal ook inskiklik reageer want werkskepping is aan die orde van die dag. Oom Sarel wat al jare die plaaslike begrafnisonderneming bedryf kan FAK-wysies op sy saag speel, Buks tower ’n paar Beatle-treffers op sy fietspomp op en Tillie is agter die klavier. So kan ons elke straat ter ruste lê.
Die skenker moet geloof word vir die wyse, respek en deernis waarmee die oprigting plaasgevind het. Nou hoef nie een padgebruiker ooit weer te wonder of Sol Plaatje ooit die duikweg sou kan regmaak nie. Sol Plaatje het in sy vermoë gefaal om ’n eenvoudige diens te lewer sê die skenker.
Hierdie is ’n ode aan Kenilworth Duikweg:
Pad gebruikers betreur die afsterwe van eens ’n trotse duikweg wat duisende voertuie in sy kloue laat beland het. Hy sal onthou word vir die ope arms waarmee hy altyd almal, selfs die water ontvang het. Nooit ’n slegte woord oor ander paaie, brûe of sypaadjies kwyt geraak het nie. Duiker, soos hy onder sy vriende bekendstaan, was tot op sy sterfbed ’n getroue ondersteuner van die munisipaliteit en het vas geglo hulle sou tot sy redding kom. Die gedane saak het ongelukkig geen keer nie.
Rus in vrede ou Duiker. – Die uwe, Muishond Malan
Hier is vorige artikels oor die duikweg: hier, hier, hier, hier, hier, hier en hier.




