KIMBERLEY – Sealing Solutions, SAW Africa en Roburn-konstruksie in Kimberley het in Februarie besluit om die duikweg in Hullstraat, De Beers, te dreineer.
“Dis onmoontlik vir motoriste om daardeur te ry. Dis ‘n groot gevaar vir klein kinders en ‘n ongerief vir persone wat in daardie area werk. Hulle moet om die duikweg loop om uit te kom waar hulle wil wees.”
Die drie besighede het hul eie masjienerie gebruik om die duikweg te dreineer. Hulle het met Sol Plaatje-munisipaliteit reëlings getref om die pomp in die duikweg te herstel na die water gedreineer is. Die duikweg is egter nou weer vol water as gevolg van die pomp wat nooit herstel is nie. Die eienaar van Sealing Solutions is baie teleurgesteld omdat die munisipaliteit nie die herstelwerk aan die drade en pompe gedoen het soos ooreengekom nie.
Die besighede is egter steeds bereid om te help waar hul kan om hierdie duikweg-kwessie uit die weg te ruim.
FiND iT het by Sello Matsie, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, navraag gedoen en wag nog op terugvoer.



