BFN-dieretuin maak sy deure toe

Deel hierdie storie / Share this story

BLOEMFONTEIN – Die Bloemfonteinse dieretuin is Vrydag finaal gesluit na die dierebeskermingsvereniging op ‘n aantal uitgehongerde en dooie diere afgekom het.

Volgens die Bloemfonteinse DBV was die omgewing nie meer geskik om die diere daar aan te hou nie. Die metro het glo nie geld gehad om die diere ordentlik te voer nie.

Die diere is Vrydag by die dieretuin verwyder en is na die Willem Pretorius-wildreservaat naby Ventersburg geneem. Sommige diere is na privaat wildboere in die Vrystaat geneem.

Dié dieretuin is in 1906 gestig. Baie het vir ‘n geruime tyd al gesê die dieretuin moet eerder hulle deure toemaak, maar ander is weer hartseer. Pieta Dell het op Facebook sy kommentaar gelewer. “En so gaan alles tot niet. Was so lekker om Sondagmiddae daar te stap en na die diere te kyk. Was altyd netjies en skoon. Ek praat nou van die 60’s en 70’s.”