Besighede spring in om duikweg in De Beers te dreineer

Deel hierdie storie / Share this story

Die duikweg in De Beers is al vir ‘n geruime tyd vol water en baie motoriste moes alternatiewe roetes gebruik om by hul bestemmings uit te kom.

Roburn Construction, Super Armature Winding Africa en Sealing Solutions Kimberley het besluit om in die behoeftes van die Kimberliete te voorsien en is tans besig om die duikweg vir die munisipaliteit te dreineer.

Derrick Dobson van Sealing Solutions Kimberley, sê hulle het die Sol Plaatje-munisipaliteit ’n ruk gelede gekontak om te hoor wat hulle kan doen om te help. Volgens Dobson is die munisipaliteit se pompe buite werking en het hulle nie die toerusting om die duikweg te dreineer nie. Die drie besighede het toe saamgespan om die duikweg te dreineer, sodat Sol Plaatje die pompe wat outomaties moet inskop as die duikweg vol water word, kan vervang.

Dobson sê die munisipaliteit sal later ’n trok stuur om die modder in die duikweg te verwyder en sal daarna die pompe vervang.

Baie dankie aan Sealing Solutions, Roburn Construction en Super Armature Winding Africa!