Diefstal en vandalisme by Wes-Kaapse skole neem glo af

Deel hierdie storie / Share this story

WES-KAAP. – Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het bekendgemaak dat daar steeds diefstal en vandalisme oor die Desembervakansie by skole in die provinsie plaasgevind het.

Dit volg nadat die departement sekuriteitsdienste aan 486 skole voorsien het. Ongeveer 26 voorvalle van diefstal en 24 vandalisme-voorvalle is oor die vakansietydperk aangemeld. Al is daar ’n afname in die aantal gevalle teenoor laasjaar, het die departement steeds sy teleurstelling daaroor uitgespreek.

Volgens die departement van onderwys sluit gesteelde items gassilinders, rekenaars en kameras in. Kragbokse, vensters, plafonne, deure en sekuriteitstoerusting is van die gewildste items wat gevandaliseer word.

Kerry Mauchline, woordvoerder vir die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het gesê dit is jammer dat geld wat vir opvoedkundige doeleindes gebruik kon word, vir die herstel van persele aangewend moet word.

Hulle het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om enige verdagte optrede of vermoedens van beplande vandalisme by die SAPD of die Safe Schools- tolvrye nommer, 0800 454 647, aan te meld.

Name van skole en presiese areas is om veiligheidsredes nie bekend gemaak nie.

Bronne: Wes-Kaap DBO, Gov.za