GROBLERSDAL, LIMPOPO. – Die borgaansoek van Piet Groenewald en sy stiefseun Stefan Greeff is gister in die Groblersdal-landdroshof tot 31 Januarie uitgestel.
Die twee mans se aanklagte is amptelik verander na aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en nie meer poging tot moord nie. Dit volg nadat hulle na bewering verlede week ’n “besope” werknemer van Groenewald se sekuriteitsmaatskappy, WIPS, met ’n harde voorwerp geslaan en ’n veiligheidshond op hom losgelaat het.
Veneruru Kavari, die veiligheidswag, is glo ’n Namibiese bruger. Hy het ’n regstreekse uitsending van die voorval via sy selfoon gemaak. Na die voorval het hy ook die beserings aan sy been afgeneem. Kavari het aan Capricorn FM gesê dat Groenewald na die voorval na bewering Kavari se wond met water gewas en hom’n inspuiting gegee het om infeksie te verhoed.
Kavari is aanvanklik ook in hegtenis geneem vir eiendombeskadiging, maar die saak is teruggetrek as gevolg van ’n tekort aan bewyse. Hy wil egter steeds sy R15 00 van Groenewald hê vir die volle sewe dae wat hy vir die sekuriteitsmaatskappy gewerk het.
Middelburg Observer berig dat die verdagtes net voor middagete gister die hofsaal binnegegaan het en kort daarna in voetboeie uitgelei is toe die hof vir middagete verdaag het.
Verskeie betogingsgroepe en aktiviste, waaronder die Bittereinders, Tewie Wessels en Willem Petzer, het hulle ondersteuning vir die verdagtes buite die hof gewys. Francois van der Merwe, leier van die Bittereinders, is na ’n struweling met die polisie in hegtenis geneem. Hy sal na bewering môre vir borg aansoek doen indien sy vrylating nie suksesvol onderhandel kan word nie. Klagtes sal na bewering ook teen polisielede ingedien word na die beweerde skop en hardhandige hantering van Van der Merwe.
Die verdagtes bly tot volgende Woensdag in aanhouding wanneer hulle borgaansoek aangehoor sal word.
Kyk hier na die video wat EFF-ondersteuners oor die optog op Twitter gedeel het:
Bronne: Bittereinders, Middelburg Observer, Boere Media, Polokwane Weekly, Capricorn FM, Twitter



