KZN-matrikulante sterf na ‘pens down’-partytjie

Deel hierdie storie / Share this story

NEW CASTLE. – Drie matriekleerlinge van New Castle het Maandagoggend in ’n motorongeluk gesterf na ’n botsing in die Amajuba-distrik. Drie ander leerders is beseer. Al die leerders is van Hoërskool Mnyamande.

Muzi Mahlambi, provinsiale onderwyswoordvoerder, sê die beseerde leerders is tans in die hoësorgeenheid. Die LUR het haar medelye teenoor die slagoffers se families uitgespreek. Sy sê dat die ongeluk hopelik die waarskuwings oor die risiko’s verbonde aan ‘pens down’-partytjies sal beklemtoon.

Die ongeluk volg nadat vyf tieners Saterdagnag inderhaas hospitaal toe geneem is nadat hulle te veel alkohol op ’n Oos-Londense strand ingeneem het.

Minister Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sê die insidente van ‘pens down’-partytjies wat reeds op sosiale media versprei word, kommerwekkend is. “Feesviering is belangrik, maar veiligheid kom eerste.”

Bronne: East Coast Radio, Sowetan Live