Beurtkrag wéér ongrondwetlik verklaar

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – ’n Volbank regters het Vrydag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof beslis dat die instelling van beurtkrag ongrondwetlik is.

Daar is beslis dat Eskom, sowel as die regering, versuim het om dit te vermy en reg te stel. Die beslissing dui aan dat dit ongrondwetlik is juis omdat dit inbreuk op Suid-Afrikaners se basiese menseregte maak.

Polisiestasies, hospitale en openbare skole sal van beurtkrag vrygeskeld word indien die minister van elektrisiteit alle redelike stappe teen 31 Januarie 2024 volg om aan regter Norman Davis se uitspraak te voldoen.

Verder het die hof bevind dat beurtkrag die direkte gevolg is van die regering se weiering om die elektrisiteitsmark oop te maak. Konstruksievertragings by Medupi en Kusile en die onvermoë om Eskom teen kriminele elemente te beskerm, is ook as bydraende faktore aangevoer.

Altesaam 19 aansoekers het die saak teen Eskom, pres. Ramaphosa en ander belanghebbendes gebring. Regter Davis het bevind dat die soortgelyke uitspraak in Mei vanjaar regverdig en billik was.

Bronne: Action SA, My broadband