GAUTENG. – Verskeie leerlinge en ‘n volwassene verbonde aan Sekondêre Skool Tsakane het na bewering tuis gif gedrink, waarna twee meisies, in gr. 8 en gr. 12 onderskeidelik Maandag 7 Augustus 2023 en Dinsdag 8 Augustus oorlede is. Boonop het ‘n algemene werker op Vrydag 18 Augustus gesterf nadat hy glo gif by die huis gedrink het.
Steve Mabona sê volgens inligting het nog ‘n gr. 8-seun Dinsdag gif skool toe geneem en voor ander leerlinge gedrink. Hy kon na ‘n mediese fasiliteit geneem word vir hulp en sterk tans aan.
Die gifdrinkery het nie hier gestop nie en nog twee meisies en ‘n seun wat ook gif gedrink het, is vir mediese hulp opgeneem.
Mabona sê ‘n video-opname wat versprei word waarin beweer word nog twee meisies het gif gedrink, is vals. Die opname is volgens hom Maandag 21 Augustus tydens ‘n gebedsfunksie by die skool geneem en die leerlinge in die video was slegs emosioneel oor die sterftes en ander aangemelde voorvalle.
Die skool is Dinsdag 22 Augustus deur die onderwysdepartement en wetstoepassingsowerhede saam met maatskaplike werkers besoek.
Die kommerwekkende gedrag sal Sondag 27 Augustus op ‘n ouervergadering bespreek word.
Indien jy hulp nodig het of weet van iemand wat hulp nodig het, kan Childline by 116 en SADAG by 0800 567 567 gebel word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



