LAPA Uitgewers publiseer Martelize Faber se kinderboek getiteld Daar’s ’n towerponie in my bed. Elsabé Ebersöhn was verantwoordelik vir die droommooi illustrasies.
Ek het heerlik aan Daar’s ’n towerponie in my bed gelees. Lia se ma is siek en moet hospitaal toe gaan. Pappa gee vir Lia ’n speeltowerponie en ander items present sodat sy nie te alleen voel nie. Saam met Reënboog die towerponie beleef Lia wonderlike avonture. Hy help om die dae korter te maak totdat Mamma weer huis toe kom.
Die boek is ’n handige hulpmiddel om ’n kind voor te berei dat ’n ouer vir ’n tyd lank afwesig sal wees, hetsy as gevolg van siekte of dalk omdat die ouer moet reis vir werk. Kinders kan maklik skeidingsangs beleef – ’n aaklige werklikheid wat emosioneel verwarrend is en dan het hulle vertroosting broodnodig. Soms gaan ’n gesin deur ’n moeilike tyd en het die kind ekstra onderskraging nodig. Daar’s ’n towerponie in my bed sal welkome afleiding bied wanneer die verlange te groot word of die kind se angsvlakke styg. Dit word as kleuterfiksie aangebied, maar kinders tot agt jaar oud sal dit geniet.
Spelterapeut Jacolene du Plooy sê dat ’n sekuriteitsitem konsekwentheid bied tydens tye van verandering. “Wanneer die kind die item vashou, ervaar hy/sy die bekende gevoel van geborgenheid. Hierdie gevoel van sekuriteit maak dit moontlik vir die kind om nuwe en vreesaanjaende situasies beter te hanteer.”
Skrywer Martelize Faber behaal ’n BCom Rekeningkunde graad asook ’n NOS. Sy woon op ’n plaas in die Jacobsdal-distrik saam met haar man, William, en hulle twee dogtertjies, Kaitlyn en Emma.
Illustreerder Elsabé Ebersöhn het ingenieurswese studeer. Sy het haar eie besigheid by name “Illustrations by Elsabé”. Kuns is haar passie, en sy eksperimenteer graag met nuwe tegnieke, style, mediums en konsepte.
Skaf Daar’s ’n towerponie in my bed hier aan. Dis ook by boekwinkels beskikbaar.
Lees hier oor Jacolene du Plooy se Stinkie en Grootpoot.



