Novae Books publiseer Jacolene du Plooy, ’n spelterapeut, se nuwe kinderboek getiteld Stinkie & Grootpoot. Haar talentvolle sestienjarige seun, Eben, was verantwoordelik vir die pragtige illustrasies. Die boek kan gesprekke oor vriendskap, hulpverlening en vrese stimuleer.
Die verbeeldingryke storie wentel om Stinkie en Grootpoot, twee jong olifante wat in die Kruger Wildtuin woon. Stinkie het ’n aardige probleem wat die diere van die bos soos blits in ’n stofwolk laat spaander as hy in die nabyheid is. Sy pote stink soos ’n wildehond se oggendasem! Toe niemand die gestank langer kan verduur nie, kom Sethu Seekoei vorendag met ’n briljante plan. Kwaai tannie Bettiena Bobbejaan stem gelukkig dadelik in toe sy hoor wat Stinkie moet doen om skoon te kom. Sethu se plan werk so goed dat Stinkie uiteindelik ’n nuwe naam moet kry.
Kinders sal hierdie heerlike humoristiese storie propvol interessante dierekarakters sommer baie geniet. Die kleurvolle illustrasies, groot skrif en vetgedrukte woorde maak die leeservaring groot pret. Daar is vyftien vrae agter in die boek wat lesertjies sal laat nadink oor die gebeure in die storie. Nie net bevorder dit begriplees nie, maar kinders word ook aangemoedig om oplettend te wees. Daar is 18 diere wat hulle ná die tyd in die boek moet soek en afmerk. Hulle leer ook dat probleme wel opgelos kan word.
Jacolene het vir haar kinders slaaptydstories opgedis oor Stinkie en Grootpoot. “Ons het eindelose pret gehad met die uitdink van nuwe avonture vir die twee olifantmaats,” sê sy.
Eben vertel meer oor hoe hy die illustrasies aangepak het: “Ek het die karakters eers realisties geteken. Daarna het ek hulle vereenvoudig sodat kinders daarvan kon hou. Ek het in waterverf gewerk, en die lynwerk in ink gedoen.”
Skaf gerus jou kopie van Stinkie en Grootpoot hier aan.
Lees ook Louise Viljoen se oorsig oor Pikkewyn en beer (Bumble Books) hier.



