Pikkewyn en beer word uitgegee deur Bumble Books. Deidre Matthee is die outeur en Maria Lebedeau die illustreerder. Kobus Geldenhuys het die teks in Afrikaans vertaal.
Hierdie is ’n pragtige storie oor vriendskap. Pikkewyn en Beer is boesemvriende wat alles saam doen, maar dan trek Pikkewyn se familie na ’n ver plek, en die twee vriende moet van mekaar afskeid neem. Hulle verlang erg na mekaar en onthou al hulle saamweestye. Hulle stuur vir mekaar foto’s en behou kontak. Al bly hulle nie meer op dieselfde plek nie, beteken dit mos nie hulle kan nie langer vriende wees nie.
Kinders ondervind dikwels skeidingsangs of ervaar ’n gevoel van verlies wanneer hulle saam met hulle ouers iewers heen verhuis en sodoende hulle maats en alles wat bekend is noodgedwonge moet agterlaat. Hierdie pragboek van 32 bladsye met sy besonderse illustrasies in wit, blou en rooi sal kinders herinner dat daar wel maniere is om kontak met geliefdes te behou. Dit is in die haak om te verlang en mens het altyd jou mooi herinneringe. Boonop kan jy altyd na ’n blye weersiens uitsien.
Die outeur, Deidre Matthee, is ’n sielkundige. Sy het grootgeword in Suid-Afrika en woon nou in Roemenië waar haar dogter gebore is. Maria Lebedeva is ’n dosent, het ’n meestersgraad in illustrasie (US) en is tans besig met haar doktorsgraad.
Bumble Books het in April 2021 die Bumble Books Buy One-Donate-One Literacy Campaign bekendgestel. Vir elke Bumble BODO-handelsmerktitel wat verkoop word, sal Bumble Books ‘n kopie van dieselfde titel in Engels of Afrikaans skenk aan een van die geletterdheidsprojekte wat hulle ondersteun.
Bestel jou kopie van Pikkewyn en beer hier. Dit is ook in Engels beskikbaar as Penguin and bear.
Lees ook Louise Viljoen se indruk oor Julia Donaldson se Die Goorgomgaatjie hier.



