Albie Du Preez Coetzer (19), een van die vyf jongmense wat in die gru-ongeluk op 29 Oktober 2022 was, is ontslaan en pas goed aan tuis, vertel sy ma, Hanlie Coetzer aan FiND iT.
“Vrydag twee weke gelede is hy uit die hospitaal ontslaan,” vertel sy. “Hy kry tans terapie by die huis en een keer per maand besoek ons die terapeute dat hy geëvalueer kan word.”
Sy vertel ten spyte van die feit dat sy heup baie seer is, hy gereeld baie moeg is en hy gereeld erge hoofpyne kry, gaan dit goed met hom.
Sy sê Albie kan oor twee jaar ‘n heupvervanging kry en dat hulle nou eers daarop fokus om sy heup te versterk.
Hy is steeds in ‘n rolstoel.
Kognitiewe terapie soos wiskunde en ander oefeninge soos begripstoetse word ook gedoen om sy brein weer optimaal te kry, vertel Coetzer.
“Ons hoop, glo en vertrou dat hy so beter sal raak sodat hy weer kan terugkeer na sy normale lewe toe. Dis nie altyd maklik nie. En om die ander kinders ook te akkommodeer, is maar ‘n uitdaging vir ons almal. Ons is net dankbaar dat ons hom het en dat hy by ons kan wees.”
“Daar is ook maar ‘n verskriklike hartseer oor die niggies. Ons almal mis hulle verskriklik. Maar ons probeer die lewe maar net weer in die oë te kyk. ‘n Mens moet maar aangaan. Ons probeer sterk wees en ondersteun ons broer-hulle ook, wie se dogters oorlede is.”
Ons gaan binnekort weer Bloemfontein toe om die terapeute te gaan sien, dan probeer ons van die psigiater tot die terapeute almal op een slag sien. Dis maar ‘n groot finansiële uitgawe vir ons, maar ons glo die Here sal vir ons daarin voorsien, soos hy alreeds vir ons voorsien.”
“Ons vertroue is in die Here alleen. Ons vertrou nie net op dokters of medisyne nie, dis op die Here. Hy is die Een wat wonderwerke verrig en reeds wonderwerke in ons lewens laat gebeur.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



