Johan Malan, ’n professor in antropologie, is in 2016 op 75 oorlede. Hy het meer as 30 boeke gepubliseer. Ook het hy het vir 26 jaar lank die geestelike tydskrif, Die Basuin, geskryf en uitgegee.
Ek het prof. Malan se boek getiteld Die sewe feeste interessant en insiggewend gevind. Laai dit gratis en wettig af by https://www.bibleguidance.co.za. (Klik op Boeke en dan op Die Sewe Feeste van Israel (PDF).)
Die studie van die sewe godgegewe feeste van Israel (sien Levitikus 23), werp lig op die roeping en geestelike bestemming van hierdie spesiale volk. “Die eerste vier van hierdie feeste, naamlik die Paasfees (Pesach), die Fees van die Ongesuurde Brood (Hag Hamatzah), die Fees van die Eerstelinge (Bikkurim), en die Pinksterfees (Shavuot), leer ons oor belangrike gebeurtenisse in verband met die eerste koms van die Messias (Mashiach), terwyl die laaste drie feeste, naamlik die Fees van Basuine (Yom Teruach of Rosh Hashanah), die Groot Versoendag (Yom Kippur), en die Loofhuttefees (Sukkot) verband hou met belangrike gebeure wat met die wederkoms van die Messias geassosieer word” (4).
Prof. Malan noem die verskillende rituele en aktiwiteite ’n bloudruk van God se plan om die mensdom te red. In ’n Nuwe-Testamentiese verband het hierdie eerste vier feeste betrekking op die kruisiging van Christus, sy begrafnis, sy opstanding en ook op die uitstorting van die Heilige Gees. Die laaste drie feeste sal ook vervul word. Die inhoud van die feeste leer ons wat die Messias tydens sy eerste en tweede koms sou doen en hoe ons Hom moet volg en dien. Dit verskaf ’n basis vir die verlossingswerk van die Messias, asook vir die uiteindelike openbaring van sy koninkryk nadat die geestelike oes vir sy koninkryk onder al die nasies ingesamel is.
Die boek is veral nou relevant omdat ons eersdaags weer Paasfees vier.
Laai Die sewe feeste hier af.
Lees ook Louise Viljoen se indruk oor Millionaire in the Making hier.



