‘Ek wens vir hom die mooiste pad toe, al is dit nie saam met my nie,’ sê Meg na haar en Neels se paaie skei

Deel hierdie storie / Share this story

Neels van Jaarsveld, die eerste vrygesel van die maatsoekprogram Op my eish! is nou weer enkellopend nadat hy en Meg Lonergan saam besluit het hulle paadjies moet skei.

Lonergan vertel aan FiND iT dat haar en Van Jaarsveld se paaie in Februarie reeds geskei het. “Ons altwee voel dit is vir die beste.”

Van Jaarsveld en Lonergan het in November onthul dat hulle mekaar begin sien het na Van Jaarsveld se verhouding met Florinda Hearn tot ‘n einde gekom het.

Die verhouding tussen Van Jaarsveld en Lonergan was ‘n langafstandverhouding, want Neels woon in Botrivier in die Wes-Kaap, terwyl Lonergan in Pretoria gewoon het. Hulle het mekaar egter gereeld gesien.

“Ek dink nie dit was die afstand nie, omdat hy baie dié kant is vir sy realiteitsprogram en ek hom gereeld kon sien. Ek glo ook as mense werklik vir mekaar bedoel is, sal afstand ook nie mens kan skei nie,” vertel Lonergan.

“Ek het werklik hoop gehad vir die toekoms. Ek het al my liefde en tyd belê om die verhouding te koester.

“Ek wil n pad saam met iemand stap wat dieselfde lig skyn in die wêreld. Ek is dalk nog jonk, maar ek is al deur baie en gebruik my ervaring en lewenslesse om mense op te bou, hoop en geluk te bring waarookal ek gaan. Omdat ek glo dat elke hart wat ek raak ‘n verskil aan die wêreld kan bring.

“Ek het werklik my beste gegee, maar party mense werk net nie saam in ‘n verhouding nie en is soms beter as vriende of kennisse.

“As ek dit kon oordoen, sou ek definitief weer. Ek is dankbaar dat die Here hom op my pad gebring het.

“Al is dit seer, verlaat ek die verhouding met n rustige hart en weet ek het alles gegee. Ek is dankbaar vir dit wat ek geleer het en al die mooi herinneringe. Ek dink as ‘n mens het ek baie gegroei.

“Ek wens vir hom die mooiste pad vol liefde en geluk toe, al is dit nie meer saam met my nie.

“My doel is om almal beter te los as wat ek hulle gevind het…”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel