Lees ook: Hillary Gardee se familie dagvaar dept. van justisie vir nalatigheid
Die man wat erken het dat hy Hillary Gardee verlede April beroof en vermoor het, het erken hy het ’n vuurwapen wat hy by ’n verkeersbeampte gesteel het, gebruik om haar in die kop te skiet.
Hlabirwa Rasie Nkune het verlede Augustus aan die polisie erken dat hy alleen vir Hillary Gardee van R1 500 beroof het en haar in die agterkop geskiet het toe sy probeer vlug in die bos naby Sabie in Mpumalanga.
Drie ander verdagtes, Sipho Mkhatswa, Philemon Lukhele en Albert Gama, is aanvanklik vir die moord en verkragting van Gardee in hegtenis geneem. Die mans het volgehou dat hulle onskuldig is, maar die polisie het bewyse teen hulle bymekaargemaak wat nou blyk vals te wees. Lukhele is drie weke gelede op borg van R20 000 vrygelaat, maar Mkhatswa en Gama is steeds in die tronk.
Nkune het op 13 Augustus aan die polisie beken dat hy en Gardee op Facebook ontmoet het en begin “uitgaan” het, maar hy wou haar eintlik beroof. Hulle het vir weke op Facebook en WhatsApp boodskappe oor en weer gestuur en toe gereël om op 29 April te ontmoet, want hy het geweet sy sou geld teen die einde van die maand hê.
Hy het vertel hoe hy Gardee en haar aangenome dogter in Riverside opgelaai het en na Sabie gery het. Hy het haar toe gesê hy wil haar beroof. Sy het hom gewys sy het net R1 500.50 in haar rekening. Hy het daardie geld met ’n “cash send” vanaf haar foon verkry en by die naaste OTM gaan trek. Hy het op pad terug na Nelspruit vir haar gesê hy soek nog geld en sy het gesê sy sal haar broer moet vra. Nkune sê dat Gardee hom daarna aangeval het en uit die kar gespring het. Hy het stilgehou en haar geskiet terwyl sy weghardloop.
Nkune het verder gesê dat hy Gardee daar gelos het. Die kind het hy in Kamagugu afgelaai en gesê sy moet by die naaste huis gaan vra vir hulp. Hy het ook Gardee se selfoon en skootrekenaar verkoop.
Hy het nog ’n vrou op Facebook gelok om haar te beroof. Hy het haar glo gewurg en in ’n plaasdam gegooi terwyl sy nog gelewe het. Sy kon hom uitken voor sy deur ‘n plaaswerker gered is. Sy is egter daarna oorlede.
Nkune het ook erken dat hy sy vrou en haar suster op 15 Mei 2022 na ’n argument doodgemaak het. Hy het vir sy ma gesê hy het mense doodgemaak en sy vriende het hom die volgende dag Mozambiek toe geneem om weg te kruip. Hy is op 11 Augustus 2022 in KwaThema in hegtenis geneem toe hy terugkeer van Mozambiek af.
Gardee se pa dagvaar die staat omdat Nkune onwettiglik op parool vrygelaat is maande voor hy Gardee vermoor het.
Die Gardee-moordsaak is geskudeleer om April in die Mbombela-hooggeregshof te begin. Lukhele, Mkhatshwa en Gama probeer die staat sover kry om die aanklagtes teen hulle te laat vaar.
Bronne: IOL, Flipboard, 247News
Lees ook: Gerhard Ackerman se borgtog teruggetrek



