‘n Vermiste tiener (16) met kognitiewe versteuring het Woensdag nie huis toe gekom nadat sy van die skool afgelaai is nie. Sy is vanoggend na ‘n soektog, kaal, in die huis van ‘n verdagte man (23) in Tongaat gevind. Die man is in hegtenis geneem.
Die meisie is in ‘n skool vir leerders met fisieke en kognitiewe afwykings.
Haar familie beweer dat sy wel Woensdag naby die huis afgelaai is maar daarna verdwyn het.
Hulle het ‘n soekgeselskap van stapel gestuur en was besig om die volgende oggend in die gebied van die man se huis te soek, nadat hulle inligting ontvang het oor ‘n meisie wat in die geselskap van ‘n man opgemerk was.
Hulle is na die man se huis waar sy glo kaal in sy kamer opgespoor is.
Die nuus van die voorval het soos ‘n veldbrand deur die gemeenskap versprei en ongeveer 50 mense het by die beweerde verdagte se huis opgedaag, die meisie verwyder, die verdagte daarna met traangas gespuit en Rusa vir bystand gekontak.
Rusa het om ongeveer 08:47 op die toneel opgedaag en van omstanders verneem dat die verdagte glo in die huis wegkruip, maar dat hulle weens die traangas nie kon ingaan om hom te gaan uithaal nie.
Die man het reageer toe Rusa vra hy moet uit die huis kom en tydens gesprekvoering het hy glo aan die beamptes erken dat hy die meisie genader het, haar kaal deur die nag aangehou het en dat hy van plan was om haar te verkrag. Volgens hom het sy gewete hom glo gepla en hy het dit glo nie gedoen nie.
Die meisie kon weens haar geestesongesteldheid nie bevestig of sy verkrag is nie en is na ‘n mediese fasiliteit vir ‘n ondersoek geneem.
Die verdagte en die tiener is deur Rusa-beamptes aan die Tongaat-SAPD oorhandig vir verdere ondersoek.
Lees ook:
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



