Mienkie (8) van Kempton Park is gister deur haar ma, Yolandi Swart, as vermis aangemeld. Mienkie was veronderstel om haar ma by die motor aan die buitekant van die skool te kry. Toe sy nie opdaag nie is daar na haar gesoek.
Mienkie wat by die skoolhek uitgestap het, het net ingedagte aanhou stap.
Sy is deur ‘n onderwyseres wat leerlinge van die skool na ‘n na-skoolsentrum vervoer opgemerk.
‘n Onbekende man het haar glo agtervolg, met nog drie insittendes in ‘n silwerkleurige motor wat saam beweeg het.
Die onderwyseres het Mienkie opgelaai en na haar ma geneem.
“Tussen die skoolhek en die motor kan daar baie gebeur. Ouers moenie in hul gemaksone vasval nie. Kry eerder jou kinders waar hulle wag aan die binnekant van die skoolhek.”
Yolandi noem dat hierdie nie die eerste keer is wat hierdie “groepie” se modus operandi op die radar van hul plaaslike polisiestasie kom nie. Sy het twee gevalle aan FiND iT Nuus genoem waarby hulle glo betrokke was.
“Ek is bly dat Mienkie ongedeerd is, maar ek gaan haar vanmiddag na ‘n sielkundige toe vat.”
Sers. Ferreira, polisiewoordvoerder, sê ouers moet ten alle tye weet waar hul kinders is.
“Norkem Park-polisiestasie het verskeie klagtes van pogings om kinders te ontvoer, ontvang, veral dié wat vir vervoer wag na skool.”
Ferreira sê die klagtes is van die residensiële omgewing van Edleen en Birch-Acres waar die skole geleë is, ontvang.
“Die polisie se raad aan ouers is om hul kinders betyds af te haal, en dat kinders in groepe moet bly en nie moet afdwaal nie.”
“Kom ons hou ons kinders veilig.”
Kinders moet nooit alleen stap nie, maar in groepe van twee of meer. Stap ook aan die verkeerde kant van die pad van die rigting waarin voertuie beweeg. Indien ‘n kind enige onraad merk, moet hy of sy by ‘n toeganklike en veilige erf of winkel instap, die situasie waarin hulle verkeer aanmeld en daar wag vir hulp.
Lees ook hier:
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



