Hoërskool Garies in die Noord-Kaap beskadig in brand

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Brand het Saterdag by Hoërskool Garies in die Namakwa-distrik uitgebreek. Mnr. Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die LUR van die Noord-Kaap se onderwysdepartement, het dit bevestig.

Fotokrediet Noord-Kaap Departement van Onderwys

Die oorsaak van die brand is nie vasgestel nie, en daar kan nie bevestig word of brandstigting vermoed word nie.

Die brand was in ‘n stadium onbeheerbaar..

Brandbestryders van Springbok, Aggeneys en Vredendal het in winderige weersomstandighede die brand beveg.

“Die situasie is van groot bekommernis vir die departement, veral in hierdie tyd waar leerders met eksamen besig is en moontlik al hul skoolwerk kan verloor.”

“Die brand is ‘n verwoestende slag, aangesien omliggende gemeenskappe in die Kammiesberg-munisipaliteit deur die skool bedien word. Die skool het 216 leerders, sowel as 21 graad 12-leerders.”

“Die departement sal skade vasstel nadat die brand onder beheer gebring is en met ‘n noodplan bystand verleen aan onderwysers, leerders en ondersteunende personeel van die skool.”

“Op hierdie oomblik kan ons bevestig dat die administratiewe blok, 11 klaskamers en ablusiegeriewe totaal vernietig is.”

Die skoolsaal, twee klaskamers, houtwerkkamer, stoorkamer en ‘n ongebruikte ablusieblok het nie gebrand nie.

Fotokrediet Noord-Kaap Departement van Onderwys

Net voor 17:00 Saterdagmiddag kon brandbestryders die brand blus. Hulle sal die situasie egter steeds monitor as gevolg van winderige weersomstandighede.

Die skool sal Maandag deur mnr. Zolile Monakali, die LUR, besoek word.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel