Theuns Jordaan Tribute – konsertorganiseerders vra vir oom Willie om verskoning

Deel hierdie storie / Share this story

Op 11 Augustus 2022 het organiseerders ‘n konsert as huldeblyk aan Theuns Jordaan begin adverteer.

Die konsert, in samewerking met 90,5FM, sal op 25 Maart 2023 op Loftus Versfeld plaasvind.

Die sangers wat hierby betrokke is, is Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Jay, Ricus Nel, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld en Bok van Blerk.


Rapport het berig oorlede Theuns se pa was ongelukkig omdat sy seun se beeld gebruik is.

Dit blyk oom Willie was nie geken in die saak nie en dit het ‘n misverstand veroorsaak.

Daar is nou met oom Willie gepraat en alle misverstande is uit die weg geruim.

Die konsert is beplan om welsynsorganisasies met die goedkeuring van die Jordaan-familie te bevoordeel.

Oom Willie het gevra dat fondse aan leukemie-navorsing moet gaan.

Lees die verskoning soos wat dit op die konsert se Facebook-blad verskyn hier:

Ons wil graag reageer na berigte die afgelope twee Sondae in Rapport waarin Theuns Jordaan se pa, oom Willie, sy misnoeë uitspreek oor konserte wat Theuns se beeld gebruik vir eie gewin.

Ons wil vir oom Willie om verskoning vra dat die organisasiespan hom nie van die begin af geken het in die prosesse rondom die organisering en bemarking nie, en veral vir die nadraai wat dit in die media veroorsaak het.

Dit het sy beeld en dié van die konsert ‘n speelbal in die media gemaak. Beide partye se aanhalings is ook nie deurgaans korrek weergegee nie. Hy het dit nie verdien om in so ‘n onbenydenswaardige posisie geplaas te word nie.

Die organiseerders is baie jammer vir die hartseer wat dit veroorsaak het.

Jacques du Plessis, wat die skakeling met die kunstenaars, orkeslede en vervaardigers behartig, het vandeesweek ‘n openhartige gesprek met oom Willie gehad waarin die lug gesuiwer is en waarin oom Willie ons sterkte toewens met die reuse taak om die konsert aan te bied. Ons verstaan sy verwagtinge en sal verseker dat sy wense nagekom word.

Jacques het dertien jaar lank saam met Theuns opgetree en hulle was hegte vriende. Theuns was soos ‘n pa vir hom in die musiekbedryf en hy is ook ‘n gesinsvriend.

Ons oogmerk was van meet af dat welsynsorganisasies wat die Jordaan-familie se goedkeuring wegdra sou baat uit die projek indien dit winsgewend is. Oom Willie het sy wens aan Jacques oorgedra dat hy wil sien die fondse gaan aan Leukemie-navorsing.

Die konsert is iets wat ‘n lewe van sy eie gekry het, en vir elke Theuns Jordaan-aanhanger ‘n eie besonderse betekenis aangeneem het. Theuns se afsterwe het tydens Covid-19 gebeur, en baie aanhangers het die behoefte aan ‘n geleentheid om op ‘n gepaste grootskaalse samekoms hulde te bring aan Theuns.

Dis groter as almal van ons en ook ‘n uitsonderlike mooi gebaar van ‘n groep naaste vriende en geliefde kunstenaars van Theuns.

Dis ‘n enorme onderneming en omvattende projek om die konsert op Loftus aan te pak, en die produksie op ‘n wyse en skaal te laat geskied wat Theuns se nalatenskap gestand doen.

Ons gaan die gehalte van die aanbieding op geen manier kompromiteer nie. Dit gaan ‘n grootskaalse konsert van internasionale gehalte wees.

Die kunstenaars en vervaardigers het Theuns na aan die hart gelê. Theuns sou hulle vertrou het om die produksie en liedjies op so ‘n wyse aan te bied dat dit sy goedkeuring wegdra.

Ons sien baie uit daarna om ‘n gepaste huldeblyk aan Theuns te bring op 25 Maart 2023 op Loftus Versfeld.

Kaartjieverkope is oop by https://itickets.co.za/events/468728

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel