Die eienaar van die Enyobeni-taverne waar 21 jongmense in Junie dood is, sal na verwagting Vrydag weer sy verskyning in die Oos-Londen-landdroshof maak.
Na die tragedie wat Suid-Afrika geruk het, is die 52-jarige Siyakhangela Ndevu daarvan aangekla dat hy die alkoholwet oortree het deur alkohol aan kinders onder die ouderdom van 18 te verkoop.
Die departement van gesondheid in die Oos-Kaap het Donderdagoggend die mediese verslae aan die slagoffers se ouers bekendgemaak.
eNCA het met een van die slagoffers, Esinako Sanarhana (17), se pa gepraat. Dié het aan eNCA bevestig die jongmense is dood na hulle in die oorvol kuierplek versmoor het.
Sanarhana se pa sê egter dat hy nie glo dat dit is hoe sy kind oorlede is nie. Hy sê daar is sommige van die oorledenes wat ‘n entjie weg van die taverne dood is en dat hy daarom nie glo dat hulle weens versmoring dood is nie. Lees die vorige berig hier.
Twaalf meisies en nege seuns is dood. Die jongste was maar dertien jaar oud.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



