Die AfriForum-tak op Koster het op 25 Augustus in samewerking met die Toeka tot Nou-span vullis voor die ingang van die Koster-begraafplaas, wat onwettig daar gestort is, verwyder.
Dit het vier ure geneem vir ’n laaigraaf om al die vullis bymekaar te skraap en op ’n vragmotor te gooi. Die vullis is na die Koster-asgate geneem. Sewe vragte vol bourommel en huishoudelike vullis is weggery. Buiten die vullis wat verwyder was, het Ari van Staden, ’n AfriForum-lid, ook die buitekant van die begraafplaas se muur geverf.
“Ons is bewus van die uitdaging wat die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit het rakende die vuillisterrein wat oorvol is, en wil graag inwoners aanmoedig om steeds verby die begraafplaas te ry en hul vullis na die stortingsterrein te neem,” sê Rika van Staden, voorsitter van die Koster-tak.”
“Dit maak ons trots om te sien hoe al die gemeenskappe selfdoen-aksies begin implementeer en saam met mekaar werk om ’n verskil te maak,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.
Die Koster-tak wil die volgende mense bedank vir hulle bydrae: Die Toeka tot Nou-span (GF Grunlingh, Louwna Verster en hulle span), Henk Harmse wat die vragmotor beskikbaar gestel het, Coenie Struwig wat die laaigraaf beskikbaar gestel het en Ari van Staden wat die mure geverf het.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



