Die ACVV-hoofbestuur het op 10 Augustus ‘n verklaring uitgereik ten opsigte van die bejaarde wat Sondag by die Maudie Kriel tehuis in Ceres, Wes-Kaap, oorlede is.
FiND iT het vroeër berig dat die liggaam van ‘n bejaarde, in haar 80’s, in haar rolstoel gevind is, waarna die polisie ontbied en ‘n geregtelike doodsondersoek deur Ceres-polisie geregistreer is.
LEES OOK: BEJAARDE STERF NA SY GLO BUITE ‘VERGEET’ IS
“ACVV-hoofbestuur en die beheerraad van ACVV Huis Maudie Kriel betoon hul innige meegevoel met die familie van die inwoner van ACVV Huis Maudie Kriel in Ceres wat Sondagoggend, 7 Augustus 2022, oorlede is tydens omstandighede wat tans deur die ACVV-hoofbestuur, in samewerking met dié tehuis en die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, ondersoek word. Die beheerraad en die hoof van die tehuis is in kontak met die familie en sal die nodige ondersteuning aanbied.”
Die hoofbestuur het hul volle samewerking ter ondersteuning van ondersoekprosesse wat tans aan die gang is, bevestig.
“ACVV Huis Maudie Kriel het 89 inwoners en 60 personeellede. Dié tehuis word deur die gemeenskap, asook die inwoners se families ondersteun en vorm ‘n integrale deel van die plaaslike gemeenskap. Daarom versoek ACVV-hoofbestuur dat die nodige ondersteuning teenoor die oorledene se familie, die
gemeenskap van Ceres, asook die tehuis se inwoners en personeel, gedurende hierdie moeilike omstandighede, ‘n prioriteit sal wees en bedank die owerhede en die publiek vir hulle ondersteuning.”
Die ACVV-hoofbestuur is egter vasbeslote om op hierdie stadium geen verdere inligting bekend te maak nie, sodat die ondersoek sy gang kan gaan en om die oorledene se familie hul privaatheid te gun.
“ACVV-hoofbestuur onderneem om na afloop van die ondersoek ‘n volledige verklaring uit te reik.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



