Twee pastore en een student van Spear International wat tans op ‘n uitreik in Ethiopië is, is daar in hegtenis geneem omdat hulle in die strate van die stad geëvangeliseer het.
Andrus Strauss, die leier van die span van 11 wat Vrydag na Ethiopië vertrek het, sê drie van sy spanlede is Maandag in hegtenis geneem toe hulle gaan koffie drink het.
Hy vertel dat daar groot optogte Sondag in die stad was na hulle Vrydag reeds begin evangeliseer het. Die groep sendelinge moes tydens die optogte selfs vir ‘n ruk lank in ‘n kerk gaan skuiling vind terwyl die polisie buite gewag het.

Jimma in Ethiopië bestaan uit ongeveer 86% Moslems, 1% Protestante Christene en die res is ortodokse Christene.
Die polisie het aanvanklik gesê die rede vir die inhegtenisname was omdat die sendelinge nie hulle paspoorte by hulle gehad het nie, maar Strauss sê dit het later aan die lig gekom dat dit was omdat hulle in die strate geëvangeliseer het. Die sendelinge het ook hulle paspoorte by hulle gehad.
Andrea de Jager, die studentsendeling wat in hegtenis geneem is, vertel hulle het besluit om Maandag ‘n bietjie die stad te verken. “Ons het in groepe opgedeel en besluit ons gaan uit om die plek te verken. Ons het gaan koffie drink en net toe ons by ons vervoer wou inklim, het hulle ons vasgedruk.”
Sy vertel sy het glad nie geweet dis polisiebeamptes toe die mense hulle omring het nie.
“Ek het glad nie in daai oomblik gedink dis polisiebeamptes nie. Ek was so vol adrenalien en vrees. Ons verstaan nie hulle taal nie, dis ons drie alleen teen ‘n klomp van hulle, hulle praat hulle taal en ons verstaan nie wat aangaan nie, en ons het niks verkeerd gedoen nie!”
Die beamptes wou aanhoudend die sendelinge se paspoorte en identiteitsdokumente hê.
“Toe ons weer sien, toe stop ons by die polisiestasie.”
Sy vertel hulle moes vir vier ure in die aanhoudingselle sit.

In die aanhoudingselle. (Van links: Arno Janse van Rensburg, Andrea de Jager en Steven Chandler)
“Vandat hulle ons by die tuk-tuk omring het tot ons by die aanhoudingselle gekom het, het ek aanhoudend gebid. Ek was toe al rustig toe ons by die selle aangekom het.”
Sy vertel die ander twee van die spanlede, Arno Janse van Rensburg en Steven Chandler, was gelukkig ook rustig.
Strauss sê hulle is na onderhandelinge met die polisie uiteindelik vrygelaat en alhoewel dit met die span moes gebeur, was daar steeds reuse sukses. “Daar is gemeentes wat na ons toe gekom het en gesê het hulle wil voortgaan hiermee. Ons beplan beslis in die toekoms om sendelinge permanent daar te plaas.”
“Ek sal dit weer deurgaan. Want ek weet Hy is met my. Ek sal weer deur gevaarlike dinge gaan, as dit beteken ek doen dit vit Hom.”
Die sendelinge is tot 1 Augustus nog in Ethiopië.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



